ourstories.zp168959
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug bied aan om UP met gebeurlikheidsplan te help ná EFFSC-dreigemente

AfriForum Jeug het vandag ’n brief aan prof. Caroline Nicholson, registrateur van die Universiteit van Pretoria (UP), gestuur om te vra wat die universiteit se gebeurlikheidsplan vir Maandag 20 Maart se beplande #NationalShutdown-protesaksie is, en om ’n gebeurlikheidsplan, wat AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid sal opstel, aan te bied. Dit volg nadat die jeugorganisasie in kennis gestel is van dreigemente wat deur die EFFSC UP (EFF studente-bevel van UP) aan studente versprei is.

“Alhoewel AfriForum Jeug, soos die meerderheid van Suid-Afrikaners, glo dat die EFF se blaf veel erger as hul byt is, moet ons namens ons jongmense optree in die belang van hul veiligheid en akademiese verpligtinge,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Klasse en semestertoetse gaan 20 Maart op die UP-kampus voort, alhoewel die EFF dreig om die land tot stilstand te bring, waarvan die impak deur die meeste Suid-Afrikaners gering geag word.

“AfriForum Jeug se Tuks-tak neem standpunt in dat politieke partye nie universiteite se akademiese programme moet ontwrig net om goedkoop politieke punte te probeer werf nie. Ons is ’n spreekbuis vir studente en ons as studente sê dat ons wil aangaan met ons akademiese verantwoordelikhede,” sê Maree van den Berg, ondervoorsitter van die Tuks-tak.

Die gemeenskapsveiligheidafdeling van dié burgerregteorganisasie staan egter gereed om die UP met ’n gebeurlikheidsplan toe te rus wat deur veiligheidspesialiste opgestel is, sodat dit in die onwaarskynlike gebeurtenis van ernstige ontwrigting flink toegepas kan word.