| DeurAfriForum

AfriForum Jeug beplan verdere regsaksie teen die HPCSA

AfriForum Jeug nooi mediesepraktisyns, wat al langer as drie maande vir hul praktisynsnommer en/of sertifikaat van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) wag, om hulle te nader sodat AfriForum Jeug namens hulle ’n mandamus aansoek kan bring om die HPCSA te verplig om hul aansoek te verwerk.

Dit volg nadat AfriForum Jeug deur ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) kon vasstel dat die HPCSA slegs 40% van aansoeke vir registrasiesertifikate, en slegs 60% van aansoeke vir praktisynsnommers, binne drie maande verwerk. Daar is tans 11 682 registrasiesertifikate (uit ’n totaal van 71 914 sedert Januarie 2018) wat nog uitstaande is. Dit beteken dat daar tans 11 682 mediesepraktisyns is wat nie hul loopbane kan nastreef nie.

“In Suid-Afrika, waar ons gereeld hoor dat toegang tot mediese sorg ’n wesenlike uitdaging is, is dit onaanvaarbaar dat ’n nasionale raad se administratiewe gesloer daartoe kan lei dat gegradueerde mediesepraktisyns nie mag praktiseer nie,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

In Mei vanjaar het AfriForum Jeug met regstappe begin toe die organisasie namens ’n afgestudeerde mediese fisikus ’n prokureursbrief aan die raad gestuur het. AfriForum Jeug het geëis dat haar uitstaande sertifikaat met die nodige registrasienommer, wat sy benodig om as ’n onafhanklike praktiseerder te begin werk, uitgereik word. Danksy die druk van AfriForum Jeug het die student op 2 Junie uiteindelik haar sertifikaat ontvang. Dit het egter vir AfriForum Jeug duidelik geword dat die uitdaging wat mediesepraktisyns met die HPCSA ervaar, verreikend is.

Mediesepraktisyns wat met hierdie uitdaging gekonfronteer word, kan vir AfriForum Jeug nader om hulp deur hier te klik.