|

AfriForum Jeug bemagtig vroue om eienaarskap van hul toekoms te neem

Meer as 30 jong vroue het gedurende Augustus saam met AfriForum Jeug gewys dat Vrouemaand oor meer as net die viering van vrouwees gaan, maar oor die vermoëns wat vroue beskik om hul eie toekoms én gemeenskap aktief te vorm. Van bokshandskoene tot naaldwerkmasjiene is jong vroue prakties toegerus om sterker, meer selfversekerd en meer selfstandig te wees.

As deel van AfriForum Jeug se pogings om vroue te bemagtig, het die organisasie boksklasse in Stellenbosch, Potchefstroom en Pretoria aangebied. Meer as 20 studente het aan dié sessies deelgeneem, waar fiksheid en persoonlike veiligheid op ’n praktiese en prettige manier gekombineer is.

“AfriForum Jeug wil hê jong vroue moet besef dat selfstandigheid oor veel meer gaan as net akademiese of finansiële sukses. Dit gaan ook daaroor om na jouself om te sien, selfvertroue te hê en fisiek en geestelik sterk genoeg te wees om geleenthede aan te gryp en uitdagings aan te pak,” sê Anne-C’Monn Joubert, jeugbeampte vir AfriForum Jeug.

Mia Buys, Romè Swart, Zanique Krauze, Jélaine Austin, Anne_C’Monn Joubert en Anika Coetzee.

Daarmee saam het die jeugorganisasie ’n beginnersvriendelike naaldwerkklas in Bloemfontein aangebied in ’n poging om ’n ondernemingsgees by die jeug aan te wakker. Die groep deelnemers het praktiese naaldwerkvaardighede aangeleer én hul eie romp gestik.

“AfriForum Jeug wil ’n generasie jong vroue help vorm wat nie wag dat iemand anders hul gemeenskap, loopbaan of toekoms moet bou nie. Ons wil hulle toerus met die vaardighede, selfvertroue en ingesteldheid om self verantwoordelikheid en leiding te neem,” sê Joubert.

Sluit vandag nog by AfriForum Jeug aan en word deel van ’n generasie jongmense wat verantwoordelikheid vir hul eie toekoms neem. Klik hier vir meer inligting.