IMG_6553
| DeurAfriForum

Sit skouer aan die wiel, ons wil beweeg!

Hierdie skrywe vorm deel van AfriForum Jeug se 2023 meningstukkompetisie. Dit is dus nie deur ʼn verteenwoordiger van AfriForum geskryf nie en die mening van die skrywer weerspieël nie noodwendig AfriForum se standpunte nie.

Om skouer aan die wiel te sit, is nog altyd vir my ’n interessante uitdrukking. Hierdie uitdrukking laat mens dink aan die Voortrekkers wat keer op keer skouer aan die wiel moes sit om die ossewa berg uit te stoot.

Wat interessant is rakende hierdie uitdrukking, vir my ten minste, is die idee dat dit nie die gegewe Voortrekker se werk is om die ossewa te laat beweeg nie. Direk uit die naam van die vervoermiddel weet ons alreeds dat dit die plig van die osse is om ’n ossewa aan die beweeg te kry én te hou.

Maar wat gemaak as die helling bietjie steil is, of as die ossewawiel in ’n rotsgleuf vassit? Dit is hier waar die Voortrekker afspring en self begin stoot. Dit is nie sy werk in hierdie mens-tot-os-transaksie nie, maar beide het ’n gemeenskaplike doelwit – om te beweeg. Dus span hy die ekstra moeite en energie in om ’n probleem op te los tot voordeel van alle belanghebbendes. ’n Boer maak ’n plan.

Dit is egter moeilik om hierdie skynbaar eenvoudige uitdrukking in ons moderne samelewing op ’n realistiese vlak te verduidelik. Ekstra tyd, geld en moeite ten koste van jouself, maar tot voordeel van ’n groter gemeenskap, is ’n konsep wat ons individualistiese generasie nie aldag oortuig nie.

Sou Suid-Afrika ’n ossewa wees, sou dit een wees wat tans stilstaan. Inteendeel, ’n mens kan selfs sê dit is ’n ossewa wat alreeds begin agteruit rol het. Tans sien ek drie hoofuitgangspunte rakende dié probleem.

Die eerste hiervan is om die probleem bloot te ignoreer. Hier sit die trekker steeds op die wa met sy oë toegeknyp terwyl die osse hom waarborg dat die wa wel op pad vorentoe is. Miskien is die trekker selfs ingelig dat daar geen beweging is nie, maar dit is in elk geval nie sy werk nie. Die osse moet mos die wa laat beweeg.

Die tweede strategie is ideaal vir ’n sinkende skip – spring af! In hierdie geval sien die trekker dat sy osse dit nie deur die drif gaan maak nie, en hou dan sy oë oop vir die beste alternatief. Iewers in die verte sien hy ’n wa beweeg. Hy los dan sy wa agter om op daardie een te gaan ry. Dit verg natuurlik bietjie moeite en tyd om agter ’n wa aan te draf, maar as hy eers op is, dan beweeg hy weer. Die prys vir beweging in hierdie geval is alles wat oorspronklik aan hom behoort het. Op die nuwe wa is hy ’n vreemdeling en moet aanpas en integreer om daar toegelaat te word.

Die derde strategie is om skouer aan die wiel te sit. Die trekker wil beweeg en sien dat die osse nie in staat is om dit self te verwesenlik nie. Die koste verbonde aan beweging in hierdie geval is eenvoudig net moeite en deursettingsvermoë. Die trekker is bereid om aande deur te stoot, want hy wil op sý wa weer aan die beweeg kom. Dit is miskien ’n langer proses met baie gesukkel, maar hy weet dit is meer volhoubaar as om te sit en terugrol en ook meer volhoubaar as om op iemand anders se wa te gaan spring.

Skouer aan die wiel sitgaan gepaard met ’n ander uitdrukking: “Daar bestaan nie ’n ding soos ’n probleem nie, slegs ’n uitdaging.”

Daarom vra ek die volgende vrae, met direkte verwysing na Suid-Afrika se huidige probleme:
Misken jy die probleem en plaas jou vertroue in die osse?
Vermy jy die probleem en gaan geniet die voordele van ander?

Of herken jy die uitdaging en gooi skouer aan die wiel?

Frans de Klerk (23)

“Maar wat gemaak as die helling bietjie steil is, of as die ossewawiel in ’n rotsgleuf vassit? Dit is hier waar die Voortrekker afspring en self begin stoot. Dit is nie sy werk in hierdie mens-tot-os-transaksie nie, maar beide het ’n gemeenskaplike doelwit – om te beweeg.”