|

“Kill the Boer”: NWU-goedkeuring van dié dreunsang op kampus teleurstellend, in stryd met eie beleid

AfriForum Jeug bestempel dit as teleurstellend dat ’n universiteit nie eens sy eie beleid en reëls rakende byeenkomste, betogings en protesaksies kan nakom nie. Dít volg op die Noordwes-Universiteit (NWU) se besluit om nie die gebruik van die omstrede “Kill the Boer”-dreunsang op kampus te veroordeel nie.

Kragtens artikel 5.3 van dié beleid word die gebruik van “kru en beledigende taal of aanstootlike gebare” as ’n oortreding van die reëls van byeenkomste van dié aard geag. Die oproep tot geweld en aanhitsing tot die moord op ’n sekere deel van die gemeenskap – en meer spesifiek ’n spesifieke deel van die universiteitsgemeenskap – is veragtelik, en die universiteit se besluit om hierdie optrede sonder meer oor te sien, selfs nog meer.

In ’n skrywe aan die jeugorganisasie sê die NWU dat hy nie in ’n posisie is om die sing van dié dreunsang as haatspraak te interpreteer nie en dat hulle glo dit behoort in die konteks waarin dit gesing word interpreteer te word. Voorts was daar ook, volgens die NWU, nie enige aanduiding dat daar tydens die EFF Student Command (EFFSC) se optog op 22 September, enige vorm van aanhitsing tot geweld was wat kon bydra tot ’n gevoel van vrees en intimidasie by ander studente nie.

“’n Universiteit het ’n plig om nie slegs die wettigheid van optrede in ag te neem nie, maar ook die impak daarvan op die waardes wat die instelling voorhou,” sê Yvonne Gerber, ontwikkelingsbeampte by AfriForum Jeug. “Deur te weier om die sing van ‘Kill the Boer’ te veroordeel, stuur die NWU ’n duidelike boodskap dat die veiligheid en waardigheid van sekere studente nie vir hulle ’n prioriteit is nie.”

AfriForum Jeug wys daarop dat talle studente, alumni en ouers hul kommer uitgespreek het oor die universiteit se hantering van die saak. Hierdie versuim om duidelik standpunt in te neem ondermyn nie net die gevoel van veiligheid op kampus nie, maar ook die universiteit se geloofwaardigheid as ’n inklusiewe en respekvolle akademiese instelling.

AfriForum Jeug het intussen die NWU skriftelik versoek om sy besluit te heroorweeg en om in die toekoms duidelik standpunt in te neem teen gedrag of uitsprake wat verdeeldheid, vyandigheid of geweld aanwakker. Volgens die jeugorganisasie is die NWU se langtermynreputasie, asook die vertroue van studente en alumni, direk gekoppel aan die instelling se bereidwilligheid om sy waardes van respek, verantwoordbaarheid en etiese bestuur self uit te leef.