|

AfriForum Jeug eis optrede ná “Kill the Boer” op Puk-kampus weerklink

Klankgreep: Yvonne Gerber (Afrikaans)
Klankgreep: Yvonne Gerber (Engels)

AfriForum Jeug versoek dat die Noordwes-Universiteit (NWU) die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang veroordeel en veiligheidsmaatreëls publiseer wat uiteensit hoe daar te werk gegaan moet word om studente se veiligheid te verseker tydens protesaksies. Dit volg ná die EFF-studenteorganisasie gister tydens ’n protesoptrede op die NWU se Potchefstroom-kampus die “Kill the Boer”-dreunsang gesing het terwyl plakkate met slagspreuke soos “shoot to kill” en “Kill the Boer” vertoon is.

Hierdie optrede het ook die akademiese aktiwiteite op kampus ontwrig en sommige klasse moes gekanselleer word terwyl ander noodgedwonge aanlyn moes voortgaan. Studente wat wel pogings aangewend het om hul klasse by te woon is verhoed om dit te doen en dié studente sê dat hulle onveilig en geïntimideer gevoel het.

“Om liedere te sing en plakkate te dra wat moord en geweld aanhits, is nie vryheid van spraak nie, dit is haatspraak. Hierdie gedrag skep ’n klimaat van vrees en bedreiging op kampus en is eenvoudig onaanvaarbaar,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum.

Die jeugorganisasie het op 19 September ’n skrywe aan die Potchefstroom-kampus se registrateur, Marlene Verhoef, gerig waarin hulle hul kommer uitgespreek het oor die beplande protesaksie. Daarin is ook gevra het watter veiligheidsmaatreëls in plek is om te verseker dat studente steeds veilig met hul akademiese aktiwiteite kon voortgaan. Voorts is daar ook gevra wat die NWU se amptelike standpunt oor die sing van dreunsange soos “Kill the Boer” is en watter dissiplinêre stappe gevolg gaan word indien studente hulself skuldig maak aan die gebruik van hierdie dreunsange.

AfriForum Jeug het ook op 11 September vanjaar ’n petisie aan dr. Corrie Rheeder, direkteur van Studentelewe op NWU se Potchefstroomkampus oorhandig waarmee daar versoek is dat die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang op kampus verbied moet word. Dié petisie is deur 6 000 ondersteuners onderteken.

“Die NWU se stilswye en gebrek aan aanspreeklikheid laat rasse- en politieke spanning op kampus toeneem. Indien die universiteit nie nou duidelike grense trek en optree nie, kan dit lei tot nog groter konflik,” sê Gerber.

AfriForum Jeug het vandag ’n opvolg skrywe aan Verhoef en Rheeder gestuur na aanleiding van gister se protesaksie. In die skrywe vra die jeugorganisasie onder meer dat die NWU:

  • ’n Ondubbelsinnige publieke verklaring uitreik waarin die universiteit die “Kill the Boer”-dreunsang, haatspraak en aanhitsing tot geweld veroordeel.
  • Veiligheidsmaatreëls bekendmaak wat ingestel is om studente se veiligheid te verseker.
  • Duidelik stel watter dissiplinêre stappe teen studente en KSR-lede geneem gaan word wat betrokke was by die haatspraak en ontwrigting.
  • Moet verseker dat studente wat gister se onderrig gemis het, nie benadeel word nie.

AfriForum Jeug gee die NWU 48 uur om skriftelik te reageer. Indien nie, sal AfriForum Jeug genoodsaak wees om verdere stappe te oorweeg.