Die studente van AfriForum Jeug se mentorskapweek saam met vrywilligers van AfriForum se Centurion-tak
| DeurAfriForum

Ywerige jongmense rol self moue op tydens AfriForum Jeug-mentorskapweek

Kry veiligheidsopleiding; leer van herwinning, woordvoerderwerk en vele meer!

Nege Afrikaanse studente het vandag (9 Julie) moue opgerol en in samewerking met AfriForum se Centurion-tak vullis vir herwinning gesorteer. Dié studente is ook ingelig oor die verskeie projekte wat hierdie tak bestuur en hoe projekte, wat daarop gemik is om die gemeenskap se uitdagings te takel, geïdentifiseer word.

Hierdie is net een van die projekte in dié ywerige jongmense, wat van 6 tot 12 Julie deel is van AfriForum Jeug se mentorskapweek, se dagboek. In hierdie tydperk neem AfriForum Jeug hierdie studente op ’n opwindende leerskool van AfriForum se gemeenskapsinisiatiewe en nasionale veldtogte.

Enkele ander hoogtepunte van die mentorskapweek sluit in spanbou- en breinprofielsessies; projekbestuur- en leierskapsopleiding; woordvoerderopleiding; en ’n skynmediakonferensie. Daar word boonop ’n hele middag afgestaan aan veiligheidsopleiding, soortgelyk aan wat AfriForum se buurtwaglede ontvang.

AfriForum Jeug bied jaarliks hierdie mentorskap vir ’n groep begaafde jongmense aan met die doel om hulle toe te rus om ’n groter bydrae tot hul koshuise, universiteite of gemeenskappe te kan maak. Die mentorskap bied ook ervaring wat elkeen van die jongmense in hul persoonlike loopbaanreise kan baat, ongeag wat hulle in gedagte het. AfriForum en AfriForum Jeug verseker ook hierdeur dat die organisasies in voeling bly met die uitdagings en behoeftes van jong Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika.

Volgens Louis Boshoff, woordvoerder van AfriForum Jeug, is dié groep se optimisme aansteeklik. “Dit is wonderlik om die ondernemingsgees van jong Afrikaners te beleef wat nie net vasbeslote is om te werk vir ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir hul gemeenskappe nie, maar ook oortuig is dat hulle daarin sal slaag.” Willem de Klerk, een van die AfriForum Jeug-lede wat die mentorskapweek bywoon, het bygevoeg dat hy op sy beurt beïndruk is met die werk wat AfriForum se vrywilligers doen. “Ek het geleer dat die regering nie al jou probleme vir jou gaan oplos nie, maar het nou ook gesien wat die oplossing is om sonder die regering se hulp jou gemeenskap op te hef.”

Die mentorskapweek duur tot Vrydagoggend. Jongmense wat graag aan volgende jaar se mentorskapweek wil deelneem, word aangemoedig om by AfriForum Jeug aan te sluit.