|

80% vir wat! AfriForum Jeug sê Ekurhuleni-inwoners moet burgemeester gradeer

AfriForum Jeug doen ’n beroep op die inwoners van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit om Nkosindiphile Xhakaze, uitvoerende burgemeester van dié metro, te gradeer op sy prestasie. Dit volg ná Xhakaza in ’n onderhoud aangedui het dat hy homself hoër as 80% sou gradeer en dat hy glo dat die inwoners van Ekurhuleni ook vir hom ’n onderskeiding sou gee.

Die feite skets egter ’n prentjie wat nie ’n onderskeiding verdien nie. Die ouditeur-generaal se 2024/2025-verslag vir die Ekurhuleni-metro het gedui op ernstige tekortkominge in leierskap, finansiële bestuur en algehele toesig.

Dié verslag het voorts ook bevind dat daar ’n ineenstorting in etiese leierskap en aanspreeklikheid in dié metro is. Daarbenewens is daar vermoede dat die verkrygingsprosesse nie op ’n doeltreffende of etiese wyse plaasvind nie, daar is onvoldoende ondersoeke om bedrieglike dokumentasie op te spoor, asook gebrekkige monitering van kontrakte en diensverskaffers.

Daarby beloop die finansiële verliese soos volg:  

  • R1,83 miljard in onreëlmatige besteding
  • R397 miljoen in ongemagtigde besteding
  • R69 miljoen in vrugtelose en verkwistende uitgawes
  • Waterverlies van 25%, gelykstaande aan sowat R1,268 miljard
  • Elektrisiteit verliese van 16%, gelykstaande aan sowat R3 miljard
  • R2,7 miljard se verkeersboetes wat nie ingevorder is nie.

Hierdie syfers kom boonop te midde van verdere kommerwekkende bewerings van wanadministrasie binne dié metro. Die publiek wag ook steeds op antwoorde oor die sogenaamde “spookwerkers”-skandaal binne die Uitgebreide Openbare Werksprogram (EPWP), waar berigte daarop dui dat honderde poste moontlik oor jare op papier bestaan het sonder dat werk verrig is.

“Wanneer miljarde rand verlore gaan, dienslewering agteruitgaan en die ouditeur-generaal ernstige bevindings teen die metro maak, is dit moeilik om te verstaan hoe enige burgemeester homself met 80% kan gradeer,” sê Hanno Koster, jeugleier van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug sê inwoners moet self vir Xhakaza ’n punt uit tien gee, ’n punt wat sy prestasie beter weerspieël. Vir elke gradering wat ontvang word, sal AfriForum Jeug ’n e-pos aan Xhakaza stuur waarin die publiek se ontevredenheid oorgedra word en waarin hy versoek word om verantwoordelikheid te aanvaar en uit sy amp te bedank sodat ’n meer bevoegde en etiese leier sy rol kan oorneem en die metro in ere kan herstel.

“Indien die burgemeester glo dat hy 80% verdien, behoort hy geen probleem te hê om die publiek se beoordeling van sy prestasie te ontvang nie. Ons wil hê inwoners moet self besluit of die feite hierdie punt regverdig,” sluit Koster af.

Gradeer Xhakaza se prestasie hier.