22 liter padverf skep netheid en veiligheid om HS Fichardtpark
AfriForum Jeug se Bloemfontein-tak het op 9 Mei die veiligheid van skoliere, voetgangers en motoriste om die Hoërskool Fichardtpark verbeter deur verskeie padmerke in die omgewing oor te verf. Tydens dié projek is twee voetoorgange in Hudsonrylaan, die padmerke by die stopstrate op die hoeke van Van der Linde- en Bergstedstraat, asook Bergsted- en Strydomstraat oorgeverf. Altesaam 22 liter verf is gebruik om die onduidelike padmerke weer sigbaar te maak.
Hierdie aksie vorm deel van die organisasie se jaarlike Herstel en Versnel-projek en is ’n verdere bewys van AfriForum se voortdurende betrokkenheid by die verbetering van gemeenskapsveiligheid en infrastruktuur.
Die projek gaan egter oor meer as net verf op teer: dit gaan oor die veiligheid van kinders wat soggens skool toe stap; oor ouers wat elke dag met bekommernis hul kinders by die hek aflaai, hoopvol dat hulle veilig tuis sal kom; en oor ’n gemeenskap wat weier om toe te kyk hoe infrastruktuur verval terwyl mense se veiligheid in gedrang kom.
AfriForum Jeug se Bloemfontein-tak is van mening dat elke kind die reg het om veilig by die skool aan te kom en dat elke motoris duidelike padtekens benodig om ongelukke te voorkom. Wanneer gemeenskappe self opstaan en verantwoordelikheid neem, herstel dit nie net hoop nie, maar toon dit ook dat daar steeds mense is wat omgee vir hul gemeenskap.
“Ons jeug wil nie net oor verandering praat nie — hulle wil dit self doen. Hierdie projek bewys dat jongmense ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap kan maak en dat veiligheid vir ons ’n prioriteit bly,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir AfriForum in Bloemfontein.
AfriForum bedank elke jongmens en vrywilliger wat hul tyd, energie en moeite afgestaan het om hierdie projek moontlik te maak. Saam bou ons aan ’n veiliger Bloemfontein vir almal.



