Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Rebellie-toer 2016

deur in Blog Witwarm op 12 October, 2016

Die Rebellie-toer het ons almal se lewens verander. Ek dink ook dat almal saamstem dat dit anders was as enige toer waarop ons voorheen was. 

Op dag een het almal dadelik met mekaar begin gesels en vriende gemaak. Toe ons by Witsand stop, lag en gesels almal al soos ou vriende, wat besonder spesiaal was. Die nag het dadelik al ons kampvaardighede getoets met tente wat weggewaai en tentpale wat gebreek het. Dit was selfs vir die gesoute kampers ’n uitdaging om te verseker dat ons nie wegwaai of verkluim nie.

Die tweede dag het ons met ‘n koue hand gegroet, maar almal het opgewonde na die “sandboarding” uitgesien. Dit het inderdaad tot ure se pret gelei en elkeen van ons se innerlike kind kon weer uitkom. Nie almal kon die tegniek onmiddellik bemeester nie, maar die leerproses het vir baie mooi foto’s gesorg. Almal was verlig om daardie aand in ’n gastehuis in Upington te kon slaap waar ons die sand kon afwas en ’n goeie nagrus kon inkry.

Dag drie het ons by Zwartmodder verwelkom – sekerlik een van die mooiste plekke wat ek al ooit gesien het! Om die geleentheid te kon hê om onder ’n versamelvoëlnes te kuier, was onbeskryflik. Daardie aand het sommige van ons probeer om springhase te jag, wat heel onsuksesvol was weens die onvermoë om stil te bly en nie met mekaar te gesels nie. Die term  ‘kaatjiekrap’ het ons ook baie goed leer ken.

Dag vier was onbeskryflik warm en daarom het ons toe saam besluit om die Augrabieswaterval te besoek en sommer daar en dan in ’n swembad te spring. Sonder daardie stop glo ek vas dat baie van ons sou smelt! Daar vat hy Nous! Nous is kleiner as wat die naam is, maar het meer lewe as die meeste groter Suid-Afrikaanse stede. Ons het ook vir die eerste sokkie in Nous se geskiedenis gesorg – danksy iemand se Toyota-bakkie wat Afrikaanse sokkietreffers gespeel het, kon baie van ons lekker dans terwyl die res om die vuur gesit, braai en grappe vertel het. Dit was hier waar ons in ’n kerksaal geslaap het.

Dag vyf breek aan. Vanrooisvlei was vir my persoonlik die hoogtepunt van die toer. Die Rebellieboom is beeldskoon – wanneer mens die meer as 400 jaar oue kameeldoringboom aanskou, kan mens nie help om te wonder van hoeveel historiese oomblikke daardie boom ’n getuie was nie. Die Braaivleisparlement was baie pret – hoewel dit meeste van die tyd vreeslik snaaks was, het dit ons almal ook voorberei op situasies waarmee ons in die toekoms gekonfronteer gaan word.

Op dag ses het ons waentjieprobleme ondervind. Ons redding het in die vorm van ’n stokou plaasbakkie gekom, wat ons gehelp het om alles en almal weer padvaardig en padwaardig te kry. Ons het daardie aand in Orania deurgebring. Nadat ons almal mooi aangetrek het, het ons Cantus gaan bywoon. Ek het Cantus baie geniet, maar die vreeslike vreemde terme en woorde het my maar baie deurmekaar gehad.

Op dag sewe kon ons lekker laatslaap en almal lekker stort. Daar het ’n baie sterk stofwind tydens die ontbytmaak opgesteek en ons moes ons braaipastei toe in die damesbadkamer gaan voorberei. Die Orania-toer was baie lekker gewees – om te sien wat ’n handjievol mense in 20 jaar alleen kon bou, het my trots laat voel om Afrikaans te wees. Die bier proe was ook ’n ervaring gewees en dit was lekker om al die stories van die dorp te kon hoor. Die rugby was ongelukkig teleurstellend, maar dit het nie ons moed geknak nie! Nadat ons aan ‘n zebrafilet kon knaag, het ons almal weer lekker om die vuur gestaan en oor die hele toer teruggedink en almal se snaakse oomblikke.

Dag agt het hartseer aangebreek en om ons ons nuutgevonde vriende te groet, was maar moeilik. Hoewel ons almal daarna uitgesien het om weer ons eie families te sien, het dit tog gevoel of ons ons familie agterlaat.

Oom Louis se geskiedenisgesprekke was besonders insiggewend, en al het ons lekker baie pret gehad, het ons ook baie nuwe dinge geleer. Hy het ’n manier om ons almal spesiaal te laat voel en het met liefde na elkeen van ons opinies geluister. Ons kon ook baie vrae vra en dit was lekker om iemand so wys soos oom Louis as ons toergids te kon hê. Ek weet vir ’n feit dat niemand anders dit op dieselfde tyd só lekker en insiggewend kon maak nie. Daarom is ek ook baie bly dat ons hom kon leer ken. Hy het definitief my lewe verander en my oë oopgemaak vir nuwe denkwyses. Baie dankie daarvoor.

Dit was tydens die hele toer duidelik dat elke persoon by wie ons stop het ons met ope arms verwelkom het. Ons het kos en verversings by elke liewe persoon gekry en elke liewe persoon het uit hul pad gegaan om dinge vir ons te vergemaklik. Dit is iets wat ek nog nooit in my lewe ervaar het nie. Ek het vele nuwe mense leer ken, maar meer belangrik is dat ek mense ontmoet het met wie ek nog ‘n baie lang pad gaan stap. Ek kan nie dankbaarder wees vir die geleentheid nie en ek sal dit verseker by enige iemand aanbeveel. Ek sal beslis weer volgende jaar aansoek doen om saam te toer.

Groete en liefde

Julius Landman