Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Onze Jan en sy stryd om gelykheid

deur in Blog op 06 May, 2015

Met al die huidige klem op die verwydering van ’imperialistiese’ standbeelde, is dit ironies dat een van die teikens van dié beweging die standbeeld van Jan Hendrik Hofmeyr is.   Indien daar één persoon is wie se standbeeld staande moet bly, is dit juis ’Onze Jan’ se standbeeld.

Jan Henrik Hofmeyr was een van die eerste kampvegters teen die oorheersende imperialistiese beleid van die destydse Britse regering.  Die liefde en respek wat hy tydens sy leeftyd afgedwing het, is duidelik te sien in die noemnaam ’Onze Jan’ wat in die volksmond ontstaan het.  Hofmeyr was ‘n doener en het daarom die grondslag vir van die Afrikaner se belangrikste kultuurinstellings gelê.  Jan Hofmeyr het sy lewe deur middel van die volgende bewegings aan die stryd om gelykheid gewy:

  • Afrikaanse Media

In 1892 help hy om Ons Land te stig en in dié nuusblad se artikels skryf Hofmeyr oor die belangrikheid van die kweek van kultuurtrots en patriotisme onder Afrikaners.  Een van Hofmeyr se belangrikste bydraes was sy teenkanting teen die oorheersing van Engels in Suid-Afrika.  ‘n Vroeë vorm van Afrikaans is reeds in die volksmond gepraat, maar geen amptelike taal buiten Engels is in Suid-Afrika erken nie.  Hofmeyr het daarvoor geveg dat Nederlands en Engels op gelyke voet moet staan en dat Nederland as amptelike taal verklaar moet word.

Tydens sy loopbaan as joernalis het hy ‘n belangrike rol gespeel as redakteur van De Zuid-Afrikaan, later geïnkorporeer in Ons Land, die Het Zuid Afrikaansche Tijdschrift en De Volksvriend.  Hofmeyr se doel met Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift was om by Afrikaners ‘n belangstelling in taal te kweek en so is die basis van die taalstryd gevorm.  Het Zuid-Afrikaansche Tijdchrift was ook die eerste Nederlandse koerant aan die Kaap en het die basis vir Afrikaanse Media van die toekoms gevorm.

 

  •  Taalbond

Hoewel Hofmeyr op politieke gebied ‘n belangrike rol gespeel het, was hy eerstens ‘n ywerige taalstryder.  Gedurende sy loopbaan het hy deurlopend vir die behoud van Nederlands teen Engels geveg en in 1890 help hy met die stigting van die Taalbond.  Die Taalbond is aanvanklik gestig om die amptelike gebruik van Nederlands te bevorder.  Ten spyte hiervan het groot gedeeltes van die eerste vergadering gehandel oor die nuwe taal ’Afrikaans’ wat besig was om in die volksmond te ontwikkel.  Die doel van die organisasie was om die stryd teen die Engelse taal- en kultuuroorheersing te voer.  Die Taalbond bestaan vandag nog en het die mandaat om Afrikaans te bevorder en uit te bou.

 

 

  • Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns

Hofmeyr het ‘n belangrike rol gespeel in die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns in 1909.  Die doel van die akademie was om Nederlands, en later Afrikaans, te bevorder deur die standaardisering en neerlegging van Afrikaanse spel- en taalreëls.  In 1942 verander die naam van die Akademie na die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.  Onder die naam stig die Akademie die Simon van der Stel-stigting en die Afrika Instituut met die oog op erfenisbewaring. Die akademie bestaan vandag nog en speel ‘n aktiewe rol in die bewaring van die Afrikaanse taal en geskiedenis.  Die Akademie het deur die jare bekend geword vir die toekenning van literêre pryse, onder meer die Hertzog-prys en ander prestige pryse soos die N.P. van Wyk Louw-medalje.

 

  • Die Afrikanerbond

Die Afrikanerbond is in 1881 deur S.J du Toit en Jan Henrik Hofmeyr as ‘n anti-imperialistiese politieke party gestig.  Tydens die eerste vryheidsoorlog het die party sterk gegroei weens anti-Engelse gevoelens.  Die belangrikste bydrae wat die party gemaak het, was die Kaapse Parlement se erkenning van Nederlands as ‘n amptelike taal naas Engels.  Die party het ook ‘n beduidende rol gespeel in die 1909-wetsontwerp.  Op 8 Mei 1925 vervang Afrikaans Nederlands as amptelike taal.

 

  • 1909-wetsontwerp

Hofmeyr was deel van die 1909-wetsontwerp se afvaardiging na London waar die ’Wet van Suid-Afrika’ aanvaar is.  Die Unie van Suid-Afrika het deur middel van die Wet tot stand gekom en Suid-Afrika ’n selfregerende dominium binne die Britse Statebond geword.  Dit was die eerste stap in die proses om Suid-Afrika onafhanklik van Brittanje te maak. Hofmeyr is tydens die samesprekings in Londen oorlede, maar hy het ’n beduidende rol in die unifikasie van Suid-Afrika gespeel.

 

Die standbeeld van Onze Jan wat op Kerkplein in Kaapstad staan, is ’n simbool van die stryd vir gelykheid, geregtigheid en onafhanklikheid.  Dit is ʼn simbool vir die stryd om ʼn eie kultuur teen ʼn imperialistiese Engelse oormag te vestig.  ʼn Simbool van ʼn geünifiseerde Suid-Afrika.  Dit is verder ʼn herdenking van ʼn man wie sy lewe gewy het aan die uitbou van sy volk, sy taal en sy kultuur.  In sy eie woorde: Is het ons Ernst.

Liza-Mari Oberholzer is ʼn geskiedkundige en vryskutjoernalis. Sy het ʼn meestersgraad aan die Universiteit van Johannesburg en spesialiseer in geskiedskrywe oor die Anglo-Boereoorlog en die vroeë 18de-eeuse Kaap. Sy is ook die skrywer van die aanlyn rubriek “Anonymous history”.