Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Manifes van die Afrikanerstudent

deur in Blog Witwarm op 14 April, 2016

Ek is…

Ek is ’n Afrikaner. Dit is niks om oor skaam te wees nie. Om die waarheid te sê, ek is trots daarop. My Afrikanerskap impliseer nie dat ek in vyandskap met ander gemeenskappe staan nie. Ek glo aan die konsep van meervoudige identiteite. Daarom sê ek dat ek ’n Suid-Afrikaner is, maar ook ’n Afrikaner. Ek is ook ’n Afrikaanssprekende. Ek het ander identiteite ook, soos my geloofsidentiteit. Ek sal nie dat iemand anders aan my voorskryf in watter volgorde van belangrikheid ek my identiteite moet uitleef nie. Ek roem my daarop dat my kultuur nie een van skree en breek is nie, maar een van leer en bou. Dit is wat my voorgeslag gedoen het en hierdie kultuur is deel van die fakkel wat ek eendag aan my nageslag sal oordra.

 Ek weet…

Ek weet dat Suid-Afrika besig is om te verval. Ek weet dat daar groepe is wat nie verantwoordelikheid vir hul eie dade wil aanvaar nie en voortdurend poog om my gemeenskap te blameer vir alles wat fout is in hierdie land. Ek weet dat dit nie waar is nie. Ek weet ook dat die beskuldigings wat voortdurend na my geslinger word, waarin my identiteit aangeval word, op ’n eensydige weergawe van die verlede gebaseer is. Ek weet wat my geskiedenis is en hoewel ek nie alles weet nie, doen ek moeite om daaroor te leer. Ek weet dat my voorouers nie kriminele was nie en ek weet dat ek ook nie een is nie. Ek weet dat ons slegs in vrede met mekaar sal kan saamleef as ons wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe bevorder. Ek weet ook dat die internasionale reg bepaal dat ek, as lid van ʼn minderheidsgemeenskap, beskerm moet word en dat ek ook die reg het om in my eie taal te studeer. Ek gun daardie reg nie net vir myself nie, maar vir almal.

Ek sal…

Ek sal nie toelaat dat my identiteit as ’n wapen teen my gebruik word nie. Ek sal onbeskaamd standpunt inneem vir my taal en my kultuur. Ek sal nie apaties toekyk terwyl my universiteit afgebreek en my medestudente aangerand word nie. Ek sal vreedsaam vir my regte standpunt inneem, sonder om te voldoen aan die wêreld se verwagting dat ek myself moet wangedra. As ek of my universiteit aangeval word, sal ek myself en my universiteit verdedig. Ek betaal immers duur vir my studies. Ek sal nie die aggressor wees nie, maar ek sal ook nie agteroorsit terwyl my regte vertrap word nie. Ek sal my medemens respekteer en ek sal saamwerk met enige persoon wat nie die taal van geweld praat nie. Ek sal in debat tree met mense van wie ek verskil, maar ek sal nie toelaat dat vandale die debat vir hulle eie politieke agendas kaap nie. Ek sal my nie deur my universiteitsbestuur laat intimideer nie. Ek sal vreesloos vir my regte opstaan, ter wille van myself en ook ter wille van dié wat ná my gaan kom.

– Afrikaanse Student