Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Leesluiheid toe te skryf aan swak onderwys

deur in Blog op 09 September, 2013

Onlangs lees ek met groot verbasing ’n artikel wat handel oor die drastiese afname in die aantal boeke wat lesers – of is dit liewer nielesende Suid-Afrikaners? – koop, uitneem en lees.

Indien daar gekyk word na die gehalte van die land se onderrigstelsel, beklee Suid-Afrika tans die 133ste posisie uit 142 lande. Indien dit ’n sportstatistiek sou wees, sou daar daadwerklike stappe gedoen word en koppe sou rol, maar nee, dit is net onderwys, dit is mos nie so belangrik vir ’n land se toekoms soos ons nasionale sport nie…

Die skokkende statistiek dra sekerlik direk by tot die legio tekortkominge binne ons onderrigstelsel, en om dit verder te voer, dra dit waarskynlik ook by tot ons mooie land se onbevoegde regeringsamptenare wat alles vir hulself wil vergemaklik, standaarde verlaag en die leeskultuur onwetend verwyder. Sodoende word daar ʼn geslag van ongeletterde en onbevoegde onkundiges gekweek, wat nog te sê van kinders én volwassenes met ryk verbeeldings wat kreatiewe wêrelde kan skep.

ʼn Gebrekkige onderwysstelsel is hiervoor te blameer. ʼn Onderwysstelsel móét skoliere ten minste die basiese vaardighede van lees en spel leer en moet ʼn voorliefde daarvoor aanvuur, maar ons onderwysstelsel misluk hierin en gaan net verder agteruit.

Universiteite moet vakke aanbied wat studente help om hul leesvaardighede te verbeter, vakke van ʼn hoë standaard wat geld kos en deur ouers of studente betaal moet word.

Jare gelede het kinders alreeds vanaf graad 1 leer klank, ou rympies soos “Arme Ek Is Oupa Uil” is geleer om vokale te onthou, en deur die jare het ons legendariese boeke soos Kringe in ʼn bos, Die Keiser en Koning van Katoren self gelees, want Juffrou het gesê jy moet. Soms het ons dit heeltemal teen ons wil gelees, maar beslis die waarde van die leesstof op ’n stadium besef. Selfs die o so gevreesde, volksvreemde Willem Wikkelspies (William Shakespeare) se skrywes wat in die meeste van ons se finale jaar van skool hanteer is, het op elke skolier ʼn invloed gehad.

Die persentasie van ʼn skamele 14% van Suid-Afrikaners wat boeke lees is kommerwekkend. Dit kweek ʼn oningeligte, onbevoegde en swak-spellende jeug wat oor etlike jare as leiers in die land moet optree en die toekoms van dié land moet bepaal.

Ek glo nie dit is te laat nie, maar daadwerklike stappe vir verbetering sal gedoen moet word. Nie net deur die onderwysraad en regering nie, maar ook deur ouers om hul kinders te motiveer om te lees en ingelig te wees. Soos die Engelse gesegde sê: “Ignorance is bliss, but knowlegde is power.”