Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Jan – die grondlegger van Suid-Afrika

deur in Blog Hou ons hier dop op 23 April, 2015

“Jan van Riebeeck en sy cronies was evil”, het Suleiman Stellenboom onlangs tydens ‘n aktivistiese aksie voor die standbeelde van Jan en Maria van Riebeeck kwyt geraak.  Hy het nog verder gegaan en daarop aangedring dat die standbeelde, van onder meer Jan van Riebeeck en ander Afrikanerleiers verwyder moet word omdat hulle “ons net aan die verlede herinner.” 

Die volgende vraag behoort dan gevra te word: Wat is dit wat so negatief is aan van Riebeeck se bydrae?  Deur blatant te maak asof van Riebeeck evil was, swyg Stellenboom, en almal wat soos hy dink, oor die volgende waarhede:

Van Riebeeck was die grondlegger van landbou in Suid-Afrika

 
Met van Riebeeck se aankoms in Suid-Afrika, was die Khoikhoi nomadiese veeboere wat agter weiding aangetrek het en geen gevestigde landboubedrywighede beoefen het nie.  Van Riebeeck was verantwoordelik vir die toestaa van grond vir die eerste nege vryburgers en het daardeur die eerste onafhanklike boere in SA geskep.  Hierdie boere het onder aanbeveling van Van Riebeeck gewasse aangeplant en die begin van landbou in SA bewerkstellig.  In 1655 is mielies en druiwe vir die eerste keer in die Kaap geplant en teen 1656 het die Kompanjietuine kool, wortels, beet, radyse en waatlemoen  en talle ander vrugte en gewasse gelewer.  Voor 1652 was niks van dié gewasse in SA aangeplant nie.  Vandag leef Van Riebeeck se nalatenskap in ons moderne landboubedryf voort.   Oor die afgelope 363 jaar het die landboubedryf in Suid-Afrika ontwikkel tot by die punt waar die 2011-sensus bevind het dat meer as 2,8 miljoen Suid-Afrikaanse huisgesinne aan landbou-aktiwiteite deelneem.

 

Die grondlegger van die Christelike geloof

Toe Van Riebeeck voet aan wal gesit het, het die inheemse volke baie min van die Christelike geloof geweet.  Sy invloed het gelei tot die vestiging van die Christelike geloof wat oor tyd na die hele gebied suid van die Sahara gespoel het.   Die eerste kerkdienste is in die fort, wat reeds in 1652 opgerig is, gehou en met stelselmatige kontak tussen die setlaars en die plaaslike bevolking het baie tot bekering gekom.  Die eerste nagmaal is op 12 Mei 1652 deur ‘n besoekende predikant, ds. Johannes Backerus, gehou en die eerste doop op 24 Augustus 1653.  Die Christelike geloof het só toegeneem dat die 2001-sensus bevind het dat 79,8% van die bevolking van SA hulself as Christene identifiseer.

 

Die grondlegger van westerse mediese sorg

Met Van Riebeeck se koms het hy die saadjie van moderne gesondheidsorg aan die Kaap gevestig.  Van Riebeeck was self as skeepchirurg opgelei en het die eerste hospitaal in die Kaap laat oprig.  In 1652 is die eerste fort, Fort de Goede Hoop, in die Kaap gebou.  Een van die belangrikste aspekte van die fort was dat dit ‘n siekeboeg gehuisves het, wat as’t ware die eerste hospitaal in SA was.  Die vestiging van mediese sorg was ook nie alleen tot voordeel van die blanke nedersetting nie.  Onder andere skryf Van Riebeeck op 10 Maart 1654 in sy dagboek oor die stamhoof van die ’Saldanhars’ wat ‘n beseerde been gehad het en na die sieketrooster van die Kompanjie vir behandeling gekom het.  Dit was slegs die begin van westerse mediese sorg in Suid-Afrika.  Tweehonderd-en-vyf jaar later word die eerste hartoorplanting in Suid-Afrika uitgevoer en plaas SA op die internasionale voorpunt van chirugie en mediese ontwikkeling.

 

Grondlegger van ‘n ekonomiese stelsel

In 1657 het Jan van Riebeeck die eerste nege Kompanjiedienaars vrygestel om voltyds op sowat 11,4 hektaar grond te boer.  Van Riebeeck het besef dat ‘n gereguleerde vryemarkstelsel beter produksie sou oplewer as om bloot net arbeiders te gebruik.  Hoewel die kopersmark ten gunste hiervan was en handel beheer is, het dié skuif die saadjies van ‘n vryemarkstelsel-ekonomie gevestig.  Tot en met 2014 was Suid-Afrika die grootste ekonomie in Afrika.  Weens ekonomiese beleid wat juis téén vryemar- beginsels inwerk, het Suid-Afrika se ekonomiese groei in die laaste paar jaar afgeneem.

As mens objektief na Van Riebeeck se bydraes tot die land kyk, was hy nie die evil gronddief soos deur sommige politici beweer word nie.  Inteendeel, hy was die grondlegger van ‘n moderne Christelike beskawing aan die suidpunt van Afrika.  Gedurende die 10 jaar wat hy aan die Kaap deurgebring het, het hy ‘n westerse nedersetting aan die Kaap gevestig wat die grondslag van ons moderne samelewing vorm.  Vandag is Suid-Afrika steeds, ten spyte van die verswakkende staat, een van die ekonomiese reuse in Afrika en dit is juis as gevolg van ‘n verskeidenheid van gemeenskappe wat deur middel van innovasie ‘n land uit die as kon opbou. As al bogenoemde in ag geneem word, behoort ieder en elk eerder ‘n glasie op oom Jan te klink!

 

Liza-Mari Oberholzer is ʼn geskiedkundige en vryskutjoernalis. Sy het ʼn meestersgraad aan die Universiteit van Johannesburg en spesialiseer in geskiedskrywe oor die Anglo-Boereoorlog en die vroeë 18de-eeuse Kaap. Sy is ook die skrywer van die aanlyn rubriek “Anonymous history”.