Vul gerus die vorm in vir enige navrae.

Naam *

E-pos *

Navrae

Taal/Language

Basta met al die rasbeheptheid!

deur in Blog op 20 August, 2014

Deur Riaan Visagie

’n Mens kan nie meer jou radio of televisie aanskakel, op die internet gaan of ’n koerant oopmaak sonder dat die rasbeheptheid-gogga jou iewers byt nie. Dit is net “swart” dit en “wit” dat. Selfs hier in Stellenbosch, waar skrywers in die kampuskoerant dikwels maan oor die “borrel” waarin ons glo hier in die wynlande leef, teel die rasbeheptheid-goggas soos muskiete in ’n malariagebied aan.

Die “borrel” laat ons glo vals vry en vervreemd voel van alles wat die res van Suid-Afrika bemoei. Vry van die probleme en kwessies wat aandag elders in die land geniet. Dié wat wel met meer as net een oopoog deur die lewe hier in die Eikestad wandel, weet dat dit egter nie so is nie. Kayamandi se armoede, al die bergies op straat en die humeure wat stil-stil of deur toi-toi al hoe meer begin oorkook as gevolg van die strukturele probleme wat ons wel in die gesig staar, is oral te bespeur.

Wat dan nog van die Universiteit van Stellenbosch se onbeskaamde rasbeheptheid met die koshuisplasingsbeleid, toelatingsvereistes en dies meer, en dan die hordes studente en studenteleiers wat luidkeels die nuwe vorm van rassediskriminasie ondersteun. “Maar dis om die foute van die verlede reg te maak” het hul gunstelingdreunsang geword, ’n mantra van “nierassigheid”, gebou en gegrond op die bevordering van een ras bo ’n ander. En bewaar jou siel as jy durf daarteen uitpraat. Die holruggeryde “rassis-etiket” skiet vinnig soos die tong van ’n slang uit en vir baie is daardie eerste teenreaksie en etiket ’n doodskoot. Moet ook nie waag om die regerende party by die debat in te trek nie, hulle “struggle-getuigskrifte” is hul Azazel.

Tim du Plessis skryf onlangs in ’n rubriek (2013) dat Suid-Afrika ’n land is “waar nierassigheid in die Grondwet ingeskryf staan en deel is van die regerende party se DNS. Maar waar alles, letterlik alles, deur die lens van ras en velkleur bekyk word”. So gepraat oor die “ANC se rasbeheptheid “, skryf du Plessis verder, “Terugval op ras en velkleur was die ding wat die ANC sy morele gesag laat verloor het. Nie korrupsie, soos ons almal glo nie. Dit was die raspolitiek van Thabo Mbeki. Dis hy wat die land weggeswaai het van nierassigheid, terug na die rasbeheptheid van die vorige era”. Dit is dan tog die regerende party en sy kaders op regeringsvlak wat verantwoordelik is vir die toepassing van nuwe en ouer rasgedrewe wetgewing, en deur die wetgewing word die klimaat geskep waarin ek en jy elke dag ons bestaan moet voer. ’n Klimaat tot oorlopens toe vol van “swart dit en wit dat”.

Wat ’n wrede ontnugtering vir diegene wat gedink het dat apartheidmisdade soos rasseklassifikasie, rasontleding en rassekwotas in dae voor 1994 begrawe lê. O nee ou maat, hierdie wandade is nog springlewendig en dans met entoesiasme oor die ontbindende lyke van vryheid, gelykheid en broederskap. Sommer hier op die Rooiplein ook. Waarom moet dit vir my of vir jou enigsins pla? Die akademici, Lani Guinier en Gerald Torres (2005), antwoord die vraag toe hulle skryf: “Diegene wat as gevolg van hul ras gemarginaliseer word soos die mynwerker se kanarie is: Hulle nood is die eerste teken van ’n gevaar wat ons almal dreig”.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, om die foute wat in die verlede begaan is nou reg te maak moet ’n prioriteit wees. Wie kan na ’n plek soos Kayamandi gaan en nie daar uitstap sonder dat sy hartsnare tot teer toe aangeraak is nie. Massas mense vergaan weens ’n gebrek aan basiese menslike benodighede en dit sal ’n klad teen ons mensheid wees as ons terugstaan en niks daaromtrent doen nie. Maar hoe kan ons, wanneer ons die probleem aanpak, die foute vermy wat die probleme in die eerste plek help skep het? Hierdie probleme is geskep deur rasbeheptheid, toe een ras bo ’n ander verhewe was en toe die verhewe ras voorkeur geniet het. Die stelsel het geval weens sy gebrek aan morele substansie en weens sy inherente onverdedigbaarheid. En vandag gebruik ons leiers een euwel om ’n ander te probeer regmaak. Is dit wraaksug, ’n tekort aan mensheid en toekomsvisie, of ’n totale wanbegrip van geskiedenis wat hulle en hulle aanhangers blind maak vir die blatante onreg? So gepraat van geskiedenis, wat van die manne en vroue wat bereid was om hulle lewens te offer op die altaar van vryheid, gelykheid en broederskap.

Op 28 Augustus 1963 help Martin Luther King jr., die beroemde burgerregte-aktivis, om ’n reuseopmars na Washington DC te reël (1997). Duisende mense het deur die Washington Mall vanaf die Washington Monument na die Lincoln Monument opgeruk. Hier, tussen liedjies van Bob Dylan en toesprake deur onder andere Charlton Heston, het mnr. King voor die kameras van die groot televisienetwerke sy toespraak, “Ek het ’n droom” gelewer. Hier sê mnr. King (2010) tussen die meer bekende dele van sy toespraak ook “Ek het ’n droom dat my vier kleinkinders eendag in ’n nasie sal woon waar hulle nie deur die kleur van hulle vel nie, maar deur die inhoud van hulle karakter, beoordeel sal word”. Een van sy vennote in die “National Association for the Advancement of Colored People” (NAACP), Jack Greenberg (1997), skryf in die dekade voor mnr. King se toespraak dat “die hoofprobleem met kwotas is dat hulle ’n potensiële retrogressiewe konsep bevorder in plaas van die gekoesterde idee van individuele gelykheid”. Dit was dus al in die 1950’s merkbaar dat konsepte soos rasbehepte-kwotas nie regverdigbaar was nie en dat nierassigheid en die individuele karakter ’n vertrekpunt behoort te wees.

Bietjie nader aan ons eie ondervinding en net effe meer as dertig jaar na mnr. King se toespraak, op 9 Mei 1994, lewer mnr. Nelson Rolihlahla Mandela sy eerste amptelike toespraak as die nuwe president van die Republiek van Suid-Afrika. In die toespraak sê mnr. Mandela (2004) “Nooit, nooit en nooit weer sal dit wees dat hierdie pragtige land weer die onderdrukking van een deur ’n ander sal ervaar nie. Die son sal nooit oor so ’n glorieryke menslike prestasie sak nie. Laat vryheid seëvier”. Wat het dan geword van hierdie ikoniese individue se drome en ideale oor meriete, karakter, gelykheid en vryheid? Ek het nuus vir die mnre. Mandela en King, julle drome lê ongelukkig aan skerwe. Die son het gaan sak nog voor hy werklik sy warm strale op die gesigte van elke man, vrou en kind kon laat skyn. Die wat julle as die hoogste vorm van morele ruggraat met die linkerhand voorhou dra in hul regterhande die dolke van rasbeheptheid, onverdraagsaamheid en die onvermoë om ’n nuwe koers in te slaan, een vry van die rasbehepte juk.

Daar is wel ’n pad uit, uit die rasbehepte moeras en in ’n nuwe, meer belowende en inklusiewe rigting in. Armoede is ons gemeenskaplike vyand, nie ras, geloof, velkleur of taal nie. Waarom dan nie armoede as uitgangspunt gebruik in plaas van ras wanneer dit by die koshuisplasingsbeleid, toelatingsvereistes of self groter kwessies kom nie?

Die probleem wanneer ras as die hooffaktor in die berekeninge vir byvoorbeeld toelating gebruik word, is eenvoudig. ’n Swart jong man of dame wie se ouers finansieël sterk staan kan dan makliker toegang tot die universiteit bekom as ’n wit jong man of dame wie se ouers finansieël sukkel. Dit raak nog erger. Dieselfde finansiële welaf swart jong man of dame kan weens hul velkleur dan ook in aanraking kom vir ’n verskeidenheid van beurse, terwyl dieselfde beurse die nié welaf wit jong man of dame weens hulle velkleur geweier word. Waar stop dit? Die onreg van ras as die bepalende faktor is dus so duidelik soos die dag. Ras as alfa en omega is nou net so onverdedigbaar as tydens die ou Suid-Afrika. Wanneer mense in leierskapsposisies besluit om hulle moue op te rol en ’n nuwe koers, weg van die verlede, in te slaan en te breek met enige diskriminasie is die dag wanneer daar weer lewe in die edele drome van mnre. Mandela en King ingeblaas gaan word. Tot dan sê ek: Basta met al die rasbeheptheid!

Bibliografie:

Abrahamse , A. 2004. The Winds of Change: Words and Music of a Free South Africa [CD-ROM]. Beskikbaar: J.S. Gericke Biblioteek [2013, April 21].

Dowd Hall, J. 2005. The Long Civil Rights Movement and the Political Uses of the Past. The Journal of American History, 91(4): 1233-1263.

du Plessis, T. 2013. SA lê tussen Chaos, Utopie [Intyds]. Beskikbaar: http://www.news24.com/rapport/Rubrieke/TimduPlessis/SA-le-tussen-chaos-utopie-20130420 [2013, April 21].

Hayward, S. 1997. Even Liberals Admit Affirmative Action Failure [Intyds]. Beskikbaar: http://ashbrook.org/publications/oped-hayward-97-affact/ [2013, April 23].

The I Have a Dream Speech. 2010. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.usconstitution.net/dream.html [2013, April 21].

Vietnam: A Television History [film]. 1997. Arlington: The Public Broadcasting Service (PBS).