| DeurAfriForum

Verwarring oor NWU-primaria is boelietaktiek om Afrikaanse studente te intimideer

AfriForum Jeug het bevestig dat die primaria van die Karlien-dameskoshuis op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) se termyn bloot ten einde geloop het, alhoewel die Kampusstudenteraad (KSR) op 14 September ’n verklaring uitgereik het wat lui dat die primaria van haar pligte onthef is. Dit volg nadat die EFFSC (Economic Freedom Fighters Students Command) ongegronde eise gemaak het omdat die primaria ’n Afrikaanse toespraak by die koshuisdinee gelewer het. Die EFFSC eis dat die primaria, asook ander studente van die koshuis, ná ’n vae bewering van rassisme uit die koshuis geskors word.

Die jeugorganisasie is bekommerd dat die KSR toegee aan die EEFSC se eise en dat hierdie voorval deur die universiteit en radikale groepe as ’n boelietaktiek gebruik word om Afrikaanse studente te intimideer. AfriForum Jeug neem daarom sterk standpunt in teen enige boelietaktiek wat die boodskap oordra dat daar drastiese, onregverdige gevolge sal wees as ’n student Afrikaans op kampus praat.

“Dit is ongelukkig die boodskap wat nou onder Puk-studente versprei ná verwarring gesaai is oor die Karlien-primaria se klaarblyklike ontheffing omdat sy in Afrikaans ’n toespraak gelewer het,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug sal voortaan die situasie fyn dophou en is reg om in te tree indien dit eskaleer.

“Daar is ’n duidelike aanslag op Afrikaans op universiteitskampusse regoor Suid-Afrika. AfriForum Jeug sal ter verdediging toetree van Afrikaanse studente wie se regte en menswaardigheid deur hierdie agenda geskend word,” sluit Van der Vyver af.