Kill the Boer-Potchefstroom
| DeurAfriForum

Veroordeel “Kill the Boer”, eis AfriForum Jeug ná dreunsang op Potch-kampus weerklink

Klankgreep: Yvonne Gerber (Afrikaans)
Klankgreep: Yvonne Gerber (Engels)

AfriForum Jeug het vandag ’n dringende beroep op die Noordwes-Universiteit (NWU) se visekanselier, prof. Bismark Tyobeka, gedoen om die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang op NWU-kampusse te veroordeel en te verbied. Dié amptelike versoek volg nadat die dreunsang gisteraand (5 Junie) buite koshuise op die NWU se Potchefstroom-kampus gesing is. Videomateriaal van die voorval is met AfriForum Jeug gedeel.

AfriForum het intussen ook betroubaar verneem dat die NWU reeds drie studente in verband met die voorval geïdentifiseer het en dat ’n ondersoek na verwagting gaan volg. AfriForum Jeug verwelkom dié stap.

Die jeugorganisasie dring verder daarop aan dat die universiteit dit duidelik moet stel dat tugstappe gedoen sal word teen enige studente wat hulself in die vervolg skuldig maak aan die sing van dié dreunsang. Die dreunsang dra, volgens AfriForum Jeug, swaar aan ’n geskiedenis van geweld en rassepolarisasie en het geen plek in ’n omgewing wat daarop aanspraak maak om inklusief, veilig en akademies vry te wees nie.

Volgens Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling van AfriForum Jeug, beteken die hof se wettiging van die “Kill the Boer”-dreunsang en die beslissing dat dit nie haatspraak is nie, geensins dat die universiteit mag wegskram van verantwoordelike en morele optrede teen die sing daarvan nie. “Net soos die dra van ’n vuurwapen wettig is in Suid-Afrika, maar nie op kampus toegelaat word nie, kan die universiteit ook in dié verband duidelike grense stel en sê dat hierdie lied nie op kampus toegelaat of geduld sal word nie,” verduidelik Gerber.

AfriForum het vroeër reeds daarop aangedring dat president Cyril Ramaphosa die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang moet veroordeel en benadruk dat sy weiering om dit te doen, volgens die regering se eie maatstaf, neerkom op ’n oortreding van die Verenigde Nasies (VN) se Volksmoordkonvensie. “Wat geld vir die president, geld ook vir die NWU se visekanselier,” sluit Gerber af.