IMG-20240626-WA0184

Van reptiele tot potjiekoskompetisie by die Brits-Jeugfees

AfriForum Jeug se Brits-tak beplan om volgende jaar nóg ’n Jeugfees te hou ná die sukses van vanjaar se fees op 17 Junie. Die atmosfeer was feestelik en almal het die dag in ’n goeie luim geniet.

Die dag het  heelwat opwinding vir feesgangers ingehou. Daar was ’n 4 km pretloop deur die bosveld waaraan sowat 50 mense deelgeneem het. Mans en vroue het ook die geleentheid gehad om aan ’ skoonheidskompetisie deel te neem om as Meneer en Mevrou Bergrivier gekroon te word. Die Voortrekkers het boeresport aangebied waaraan oud en jonk kon deelneem.

Die reptielvertoning het vir groot vermaak gesorg met ’n paar skrikkerige besoekers wat hul dapperheid op die proef gestel het deur aan grillerige goggas en slange te voel. Die hondevertoning het ook groot aftrek gekry en geskitter met die tentoonstelling van hulle vermoëns in verskeie dissiplines soos gehoorsaamheid en aanval op bevel.

Daar was ook stalletjies met die heerlikste eetgoed vir honger besoekers. Intussen het die deelnemers aan die potjiekoskompetisie hul kookvernuf aan die beoordelaars gewys. Die span van AfriForum se Brits-tak is as algehele wenners gekroon.

Musikante, waaronder Evert Swart, Mount Grey, Geraldene van Dyk en Martin van Aarde, het deur die loop van die dag opgetree terwyl die lyndansers hulle passies ten toon gestel het.

“Dit is ’n wonderlike geleentheid vir ons jeug om betrokke te raak en die gemeenskap bymekaar te bring. Ons is baie trots op die sukses van hierdie jaar se fees en sien uit na volgende jaar se gebeurtenis,” sê JC Naude, die leier van AfriForum Jeug in Brits.