Tukkies

UP-staking: AfriForum Jeug se volgehoue druk bring uitkoms

AfriForum Jeug se volgehoue druk op bestuur van die Universiteit van Pretoria (UP) het nou vrugte afgewerp nadat bestuur laat gisteraand aangekondig het dat sekere klasse vir die interim aanlyn aangebied sal word. Die jeugorganisasie is sedert Maandag in gesprek met UP-bestuur oor die veiligheid van studente op dié universiteit se hoofkampus in Hatfield en het in ’n skrywe gister geëis dat alternatiewe reëlings, soos aanlyn klasse, oorweeg moet word vir die duur van die staking. Werknemers van die National Education, Health and Allied Workers Union (Nehawu) en die University of Pretoria Workers’ Organisation (UPWO) staak reeds sedert verlede week hier.

Studente het Maandag amptelik hul akademiese jaar by UP afgeskop, maar is erg ontnugter toe hulle deur stakende werknemers geïntimideer en verhoed is om die kampus binne te gaan of te verlaat. AfriForum Jeug het reeds Maandag ’n brief aan die universiteitsbestuur gerig en dringende optrede in dié verband geëis. Die universiteit het spoedig ontvangs van die brief erken, hul kommer uitgespreek oor die stakers se oortreding van die ooreengekome stakingsreëls en aangevoer dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in kennis gestel is van probleme.

Ten spyte van dié terugvoer, was UP-bestuur teen gistermiddag steeds tjoepstil oor ’n daadwerklike aksieplan vir die verdere hantering van dié veiligheidsrisiko, verduidelik Ronald Peters, AfriForum Jeug-bestuurder. In ’n verdere skrywe aan UP-bestuur het die jeugorganisasie gistermiddag onder meer geëis dat UP-bestuur hul planne vir die versekering van studente se veiligheid onmiddellik moet bekendmaak. Daarbenewens is versoek dat alternatiewe maatreëls, soos aanlyn klasse, ingestel word en dat studente nie gepenaliseer word indien hulle, vanweë intimidasie, nie aktiwiteite of klasse op kampus kan bywoon nie.  

“Wanneer dit by die veiligheid van studente kom, is dit die verantwoordelikheid van bestuur om daadwerklik en sonder weifeling op te tree. Studente was vir twee dae lank aan hul eie genade oorgelaat, terwyl intimidasie deur werknemers voortgeduur het. Dit kan eenvoudig nie geduld word nie en ons vertrou dat die universiteit streng gaan optree teen werknemers wat hul aan dié gedrag skuldig gemaak het,” verduidelik Peters. “AfriForum Jeug verwelkom egter, ten spyte UP-bestuur se sleepvoetbenadering, hierdie besluit in die belang van studente se veiligheid. Ons sien saam met die studente uit na die beëindiging van die loongeskil sodat studente kan terugkeer kampus toe en die volle ervaring van studentelewe kan benut.” 

Hoewel die intimidasie deur stakende werknemers in hierdie stadium nog nie oorgespoel het na ander kampusse van die universiteit nie, monitor AfriForum Jeug steeds die situasie streng.