Ou_Lettere_f_Tuks-731x477-1
| DeurAfriForum

Universiteit van Pretoria en Universiteit Stellenbosch wíl saam met AfriForum Jeug werk om studenteveiligheid te bevorder

Die rektorskantore van die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit Stellenbosch (US) het positief gereageer op AfriForum Jeug se aanbod om hulp in die bevordering van studenteveiligheid op kampus. Die jeugorganisasie het in die lig van die #NoStudentLeftBehind-protesaksies briewe aan die bestuur van UP en US gestuur waarin duidelikheid gevra word oor die universiteite se bestaande veiligheidsmaatreëls. Die einste briewe is ook aan die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Noordwes-Universiteit (NWU) gestuur, maar AfriForum Jeug het geen terugvoer van hulle af ontvang nie.

In die briewe, wat in Februarie aan die universiteite gestuur is, het AfriForum Jeug spesifiek gevra vir die universiteite se planne om veiligheid op en om kampus tydens moontlike protesaksies te verseker; hoe daar met studente en personeel in die geval van onrus gekommunikeer word; wat gedoen word om geweld te voorkom en wetstoepassing te koördineer; en hoe studenteraadslede aanspreeklik gehou word vir hul rol in onrus en akademiese ontwrigting.

Prof. Francis Petersen, UP-rektor, en prof. Stan du Plessis, US se waarnemende rektor en visekanselier, het in reaksie op AfriForum Jeug se briewe skriftelik bevestig dat hulle gewillig is om met die jeugorganisasie in gesprek te tree rakende die beoogde veiligheidsinisiatiewe. Dié universiteite het voorts ook onderneem om self veiligheid op hul kampusse te verskerp.

“Wat egter kommerwekkend is, is dat die UV en die NWU stééds nie op ons briewe gereageer het nie – ten spyte van verskeie opvolgversoeke. Hierdie stilte dui op ’n onvermoë of onwilligheid om studenteveiligheid as ’n prioriteit te hanteer,” benadruk Yvonne Gerber, AfriForum Jeug se beampte vir ontwikkeling.

“Dit is onaanvaarbaar dat tersiêre instellings studente se veiligheid ignoreer, terwyl protesaksies, intimidasie en akademiese ontwrigting ’n realiteit en gereelde probleem op die kampusse is.”

AfriForum Jeug het reeds begin om proaktiewe maatreëls in te stel om studenteveiligheid op die UP-, US-, UV- en NWU-kampusse te verseker.

“Ons is besig om studentebuurtwagte op die been te bring wat patrollies op en om die onderskeie kampusse sal doen. Verder het ons WhatsApp-groepe vir onmiddellike ondersteuning gestig en beplan om selfverdedigingsopleiding op die kampusse vir studente aan te bied. Daar sal ook ’n veiligheidsoudit plaasvind en ’n meningspeiling oor kampusveiligheid aan studente gestuur word,” sê Gerber.

“Studente moet veiligheid in hul eie hande neem en sal self toesien dat hulle sonder enige ontwrigtings en gevare met hul akademiese verpligtinge op kampus kan voortgaan.”

AfriForum Jeug sal steeds die universiteite by hul beloftes hou en aanhou veg vir studente se reg tot ’n veilige, stabiele leeromgewing.