Skade aan landbougebou
| DeurAfriForum

Universiteit van die Vrystaat moet optree teen gewelddadige betogers

AfriForum Jeug doen ’n beroep op die Universiteit van die Vrystaat se bestuur om streng op te tree teen studente wat hulself skuldig maak aan gewelddadige protesaksie. Die jeugorganisasie het van sy lede op dié kampus verneem dat ’n groep gewelddadige betogers geboue op kampus met klippe bestook het terwyl studente binne die geboue besig was met akademiese verrigtinge.

“Die Universiteit van die Vrystaat se bestuurspan moet ernstige tugstappe neem teen die skuldige studente en ’n saak van saakbeskadiging behoort gemaak te word vir die vandalisering van die geboue,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug-lede het die organisasie laat weet dat hulle onveilig voel op kampus. “Dit is onaanvaarbaar en as jeugorganisasie sal ons met die universiteit in verbinding tree om te verseker dat akademiese verrigtinge op kampus belangriker geag word as gewelddadige politieke aksies,” voeg Van der Vyver by. “Dit is nie volhoubaar om elke keer klasse op kampusse op te skort sodra protesaksies gewelddadig raak nie. Onskuldige studente word gestraf weens die misdadige optrede van ’n klein groepie.”

“Ons was binne die landbougebou toe ons die gedreun hoor. Daar is vir ons gesê om onsself toe te sluit voor hulle by ons uitkom – ons was ontsettend bang,” sê ’n tweedejaar landboustudent.