Carlo Ferreira, Richard Muller, Rudolph Cilliers en Rikus Steenkamp
| Deurmeganswart

Tuks-studente groet dosyn slaggate ná AfriForum Jeug daad by woord voeg

AfriForum Jeug se Tuks-tak het gister talle slaggate in die Brooklyn- en Hatfield-omgewing herstel wat oor die jare heen groot skade aan padgebruikers se voertuie veroorsaak het. Dit het onlangs onder die AfriForum Jeug Tuks-tak se aandag gekom dat motoriste en studente sedert 2021 beswaar aanteken teen die talle slaggate om die hoofkampus van die Universiteit van Pretoria (UP), maar dat weinig daaraan gedoen is.

In plaas daarvan om bloot te kla oor die haglike toestand van die paaie, het altesaam 14 studente aan dié universiteit besluit om self hierdie kwessie te pak. Die studente het met 30 sakke, oftewel 0,7 ton teer, daarin geslaag om 14 slaggate wat oor ’n afstand van 2 km strek, te herstel.

Terwyl die studente om die beurt besig was om slaggate vanaf Prospectstraat in Hatfield tot Murraystraat in Brooklyn te herstel, het talle padgebruikers hul dankbaarheid uitgespreek dat die slaggate eindelik gevul word. Verbygangers het selfs gestop en hand bygesit toe hulle gesien het wat dié studente vermag.

“Hierdie aksie is meer as net ’n paar gedempte slaggate – dit is ’n duidelike verklaring van die jeug se toewyding tot die onderhoud en verbetering van die gemeenskap. Teen die agtergrond van voortdurende diensleweringsuitdagings, het hierdie jongspan bewys dat praat nie genoeg is nie – optrede is wat die koring van die kaf skei. AfriForum Jeug se Tuks-tak glo vas daarin dat dit niemand baat om oor probleme te kla, as mens nie bereid is om self iets daaraan te doen nie,” sê Rudolph Cilliers, woordvoerder van AfriForum Jeug.

“Dit is ’n algemene wanopvatting dat jongmense en studente bloot op hulle derde rugwerwel lê en niks doen nie. Dit is egter nie waar nie. Ons as studente gaan die verskil wees wat ons wil sien,” sê Maree van den Berg, voorsitter van AfriForum Jeug se Tuks-tak.

AfriForum Jeug sal voortgaan om proaktief op te tree en ’n aktiewe rol te speel in die verbetering van die gemeenskap.