|

Studente trap 3 650 km tydens AfriForum Jeug se derde Trap vir jou Toekoms-fietsryuitdaging

AfriForum Jeug se Tuks-tak het op 24 September (Erfenisdag) ’n 12 uur lange fietsryuitdaging van 12:00 tot middernag by Sol-Tech aangebied, waartydens minstens 300 deelnemers altesaam sowat 3 650 km afgelê het. Dit was die jeugorganisasie se derde Trap vir jou Toekoms-uitdaging, wat daarop gemik is om verskeie studente-instellings die geleentheid te bied om fondse vir hul onderskeie instansies in te samel, asook om bande te smee met ander jongmense wat dieselfde waardes deel.

Tien spanne van koshuise aan onder meer Akademia en die Universiteit van Pretoria (Tuks) het mekaar die stryd aangesê op oefenfietse waar hul spanmaats deurentyd mekaar afgelos het om so ver moontlik te trap en fondse in te samel met elke kilometer wat hulle getrap het. Die Sonop-manskoshuis van Tuks is as die beste mansspan aangewys. Die span van Akademia se die Huis Dahlia-dameskoshuis is as die beste damesspan gekroon, terwyl De Goede Hoop (’n private Afrikaanse koshuis) met die geesbeker én as die beste gemengde span weggestap het.

Benewens die trap, was die dag gevul met ’n verskeidenheid aktiwiteite wat hoofsaaklik op Afrikanerkultuur en koshuisgees gefokus het, waaronder boeresport, waar elke span aan die toutrek, driebeenresies, eierresies, kruiwa-stoot- en bokdrol-spoeg-kompetisie deelgeneem het. Dit is gevolg deur ’n braaibroodjiekompetisie om te bepaal watse span die wenresep vir die beste braaibroodjie het. Daar is ook later deur die dag ’n sokkie-kompetisie gehou om te bepaal watse span die beste en lekkerste kan sokkie.

Kunstenaars Vandenberg en Henru en Schwabie het by die geleentheid opgetree.

“Ons is ongelooflik trots op die derde Trap vir jou Toekoms-uitdaging. Dit was nie net ’n sportgeleentheid nie, maar ’n viering van kultuur, energie en gemeenskapsgees,” sê Hanno Koster, leier van AfriForum Jeug. “Sol-Tech was die perfekte tuiste vir hierdie dinamiese dag en ons sien daarna uit om in 2026 nog verder te trap.”

AfriForum Jeug bedank alle deelnemers, ondersteuners en borge wat gehelp het om die dag ’n sukses te maak.