Misdaad

Sowat vyf misdade teister Stellenbosch-studentedistrik per dag, AfriForum Jeug eis nuwe benadering tot kampusveiligheid

Klankgreep: Wikus van der Walt (Afrikaans)

’n Nuwe benadering tot kampusveiligheid moet dringend gevind word om die voorkoms van misdaad in die Stellenbosch-studentedistrik hok te slaan. Só meen AfriForum Jeug nadat misdaadsyfers wat deur middel van ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Stellenbosch gerig is, toon dat ’n totaal van 1 671 misdade in 2024 in die Stellenbosch-studentedistrik en die aangrensende gebied aangemeld is. Dit beteken dat minstens 4,5 misdade elke dag in dié gebied aangemeld word en dat die algehele voorkoms van misdaad (aangemelde sowel as ongerapporteerde misdaad) selfs hoër kan wees.

Volgens Wikus van der Walt, jeugbeampte vir Strukture by AfriForum Jeug, sluit die data wat ingevolge die PAIA-aansoek bekom is, inligting in oor ’n verskeidenheid tipes misdaad insluitend huisbrake, aanranding en voertuigverwante insidente. “Die syfers wys op die beduidende voorkoms van misdaad op kampus en in die dorp wat ’n besliste invloed op studente se gemoedsrus moet hê. Dit bied ook waardevolle insig in die werklike risiko’s waarmee studente daagliks in dié dorp gekonfronteer word.”

AfriForum Jeug meen die statistiek is rede tot ernstige kommer. ’n Onlangse voorval, waartydens ’n studenteraadslid van die Universiteit Stellenbosch (US) na bewering ’n medestudent aangerand het, versterk dié kommer. “Dit beklemtoon die noodsaak vir ’n konsekwente en omvattende benadering tot veiligheid en vervolging,” beklemtoon Van der Walt. “Dié benadering moet ongeag die oortreder toegepas word.”

Die jeugorganisasie sal nou die data verder ontleed om die grootste bedreigings te identifiseer en dit gebruik as grondslag vir die ontwikkeling van praktiese voorstelle wat kampusveiligheid in Stellenbosch betekenisvol sal versterk.

AfriForum Jeug is tans besig met ’n veiligheidsopname onder US-studente. Dit is ontwerp om eerstehandse insigte van studente te bekom en sal ’n kritieke rol speel in die ontwikkeling van doelgerigte veiligheidsaksies op die US-kampusse. Studente word aangemoedig om aan die opname deel te neem. Klik hier om die opname te voltooi.

Terugvoer rakende die dataontleding, resultate van die AfriForum Jeug-opname en ’n voorgestelde aksieplan sal binnekort bekendgestel word. “AfriForum Jeug bly daartoe verbind om ’n aktiewe en verantwoordbare rol in studenteveiligheid te speel, en wil ook graag nouer samewerking met kampusbestuur en ander veiligheidsrolspelers bewerkstellig om sodoende oplossings te bevorder wat werklik die veiligheid en welstand van studente dien,” sluit Van der Walt af.