uv-2-scaled
| DeurAfriForum

SAMRK gaan rassistiese dosent by Universiteit van die Vrystaat ondersoek

Die Suid-Afrkaanse Menseregtekomissie (SAMRK) het ingestem om AfriForum Jeug se klag van rassisme teen dr. Pedro Mzileni, ’n dosent by die Universiteit van die Vrystaat (UV), te ondersoek. Dit volg ná die jeugorganisasie op 17 Augustus ’n klag ingedien het teen Mzileni, in reaksie op studente se klagtes oor dié dosent se rassistiese lesing terwyl hy as gasspreker opgetree het.

“Sy verdelende retoriek het voorgekom asof dit daarop gemik was om die vure van rasseskeiding en vyandigheid aan te wakker. Intussen het ’n student wat Sosiologie by Mzileni kry ons in kennis gestel, en bewyse gestuur, van herhaaldelike rassistiese opmerkings deur dié dosent,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Die jeugorganisasie het sy prokureurs opdrag gegee om vandag die aanvullende bewyse van rassisme teen Mzileni aan die SAMRK te stuur.

“Dit is ’n stap in die regte rigting dat die SAMRK ondersoek gaan instel oor AfriForum Jeug se klag teen ’n rassistiese dosent. Ideologies-verwronge en rassistiese inhoud wat op ons kampusse in studente se kele afgedruk word mag nooit toegelaat word nie,” voeg Van der Vyver by.

Intussen word AfriForum Jeug se klag by die universiteit ook deur ’n onafhanklike prokureursfirma ondersoek en die aanvullende bewyse sal as ’n nuwe klag ingedien word.