WhatsApp Image 2023-02-24 at 15.53.02
| DeurAfriForum

Puk-studenteleier bedank ná boeliegedrag voortduur

AfriForum Jeug ondersteun Beàtha Groenewald, sekretaris van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus-studenteraad (KSR), se besluit om te bedank ná die NWU se voortgesette boeliegedrag hierdie posisie vir haar ondraaglik maak. Dit kom nadat Groenewald op 13 Februarie onregmatig afgedank is, op 23 Februarie weer aangestel is, en kort daarna in kennis gestel is dat ’n tweede mosie van wantroue teen haar gebring word.

Yikumba Andreas, die voorsitter van die KSR, het Donderdag presies vyf minute nadat die KSR aangekondig het dat Groenewald se verwydering van haar amp teruggetrek is, ’n e-pos aan die KSR-lede gestuur om hulle in kennis te stel van ’n buitengewone vergadering om ’n  mosie van wantroue teen Groenewald te bring. Die KSR se mediaverklaring is Donderdag 14:37 uitgereik waarin daar erken word dat die afdanking van Groenewald as KSR-lid ’n fout was. Andreas se e-pos is Donderdag 14:42 gestuur waarin KSR-lede ingelig word van die buitengewone vergadering wat Saterdagmiddag sal plaasvind.

Die dubbelsinnige boodskappe wat deur die NWU-strukture versprei word, saai groot verwarring en blyk om ’n poging te wees om die publiek ’n rat voor die oë te draai. Boonop word dit ervaar as voortgesette boeliegedrag wat ’n studenteleier aanhou teiken nadat sy opgestaan het vir geregtigheid.

“Dit wil voorkom asof dit net ’n goedkoop oefening in openbare betrekkinge was. Die NWU-strukture se boeliegedrag is onaanvaarbaar en AfriForum Jeug sal druk volhou tot geregtigheid geskied,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Groenewald bedank omdat sy haarself wil distansieer van die manier waarop die KSR tans funksioneer. Sy voel dat dit teen haar morele waardes indruis en daarbenewens het die aanhoudende teistering en boeliegedrag onuithoudbaar geraak vir haar.