|

PUK-studente is “gatvol” vir slaggate, eis dringende herstel van hoërisiko-slaggate

AfriForum Jeug se PUK-tak op Potchefstroom het vandag amptelik sy GATVOL-veldtog afgeskop in protes teen die verswakkende toestand van paaie rondom die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus. As deel van die veldtog het die tak vandag ’n brief gestuur aan Kgomotso Kumbe, munisipale bestuurder van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, om die dringende herstel van tien hoërisiko-slaggate in die dorp te eis.

In aanloop tot die amptelike begin van die GATVOL-veldtog het ’n aantal AfriForum Jeug-lede op 16 April byeengekom om hul frustrasie met die swak toestand van paaie op ’n sigbare wyse uit te beeld. Tydens dié byeenkoms het studente – staande in van die grootste slaggate op dié dorp – die woord “GATVOL” strategies uitgespel op hul sitvlak.

Die tak het terselfdertyd ook die tien hoërisiko-slaggate geïdentifiseer. Waarskuwingsborde wat onder meer verklaar “Welkom in Potholestroom” en “Duiklesse hier: Hier duik meer as net bande” is by dié slaggate opgerig.

Volgens AfriForum Jeug is die kennisgewingsborde nie net daarop gemik om motoriste oor die gevaarlike slaggate te waarsku nie, maar ook om die munisipaliteit daarop te wys dat dringende ingryping nodig is.

AfriForum Jeug het die munisipaliteit nou 30 dae gegee om die tien slaggate wat geïdentifiseer is, te herstel. Dié geïdentifiseerde slaggate is soos volg geleë:

  • Hoffmanstraat 72
  • Rissikstraat 56
  • Rissikstraat 54
  • Molenstraat 59A (op die hoek van Molen- en Meyerstraat)
  • Molenstraat 41
  • Meyerstraat 47
  • Meyerstraat 44
  • Chief Albert Luthuli-rylaan 25
  • Steve Bikostraat 139
  • Esselenstraat 25

“Ons weier om hierdie nuwe ‘normaal’ te aanvaar. Slaggate is nie deel van ’n alledaagse avontuur of verskynsel nie. Dit is ’n teken van verwaarlosing en ’n gebrek aan aanspreeklikheid,” sê Janké Crots, voorsitter en woordvoerder van AfriForum Jeug se PUK-tak. “Wat ons sien, is nie bloot swak infrastruktuur nie, maar die sistemiese ineenstorting van dienslewering wat nie langer geïgnoreer kan word nie.”

AfriForum Jeug hou vol dat Potchefstroom se paaie nou gekenmerk word deur omvangryke slaggate wat nie meer net ongerief veroorsaak nie, maar ook ernstige veiligheidsrisiko’s inhou vir alle padgebruikers. Die organisasie voer voorts aan dat die munisipaliteit se versuim om die paaie in stand te hou boonop ook telkens lei tot stade aan voertuie.  

“Die munisipaliteit het ’n kritieke verantwoordelikheid om openbare infrastruktuur te onderhou en die veiligheid en funksionaliteit daarvan te verseker. Dit is ’n verantwoordelikheid wat kragtens die Grondwet op munisipaliteite geplaas word. Daarom is die versuim om paaie behoorlik in stand te hou, ’n blatante skending van die Grondwet wat ernstige regsimplikasies inhou,” voeg Crots by.

Studente, inwoners en ouers word aangemoedig om AfriForum Jeug se petisie en die GATVOL-veldtog te ondersteun en sodoende te help om die munisipaliteit tot verantwoording te roep. Die organisasie hoop om deur dié veldtog daadwerklike verandering te bewerkstellig en doen daarom ’n beroep op die munisipaliteit om:

  • die herstel van geïdentifiseerde slaggate te prioritiseer;
  • ’n deursigtige en volhoubare padinstandhoudingsplan op te stel en te implementeer; en

gereelde terugvoer aan die publiek te gee oor die vordering en uitdagings wat in dié verband ondervind word.

“Veilige paaie is nie ’n luukse nie – dit is ’n basiese reg. Ons sal nie langer toekyk hoe ons infrastruktuur verval en ons mense in gevaar gestel word nie. Ons kies om op te staan, om te praat en om aksie te neem,” sluit Crots af.

  • Klik hier om die petisie te ondersteun.