Beatha-teenrassisme
| DeurAfriForum

Puk maak u-draai oor KSR-lid se afdanking

AfriForum Jeug neem kennis van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus (Puk) se skrywe vandag om aan te kondig dat Beàtha Groenewald, wat onregmatig uit haar posisie as sekretaris van die kampus studenteraad verwyder is, weer aangestel is. Die jeugorganisasie aanvaar dat dit hulle regsoptrede was wat hiertoe gelei het, maar behou steeds sy reg voor om te besluit oor verdere optrede in die verband.

Dit is betekenisvol dat die NWU sy fout erken, maar AfriForum Jeug verwag steeds dat die universiteit in die publiek vir Groenewald om verskoning sal vra, soos die jeugorganisasie se prokureursbrief van 17 Februarie vereis. Die NWU se terugvoer op laasgenoemde brief laat veel te wense.

“Dit is baie jammer dat ons so vêr moes gaan om met ons regspan te konsulteer voor die Puk bereid was om te erken dat hulle ’n fout gemaak het. Ons wag egter steeds vir ’n publieke verskoning en hoop van harte dat alle strukture van die universiteit uit hierdie voorval sal leer om nie hulself skuldig te maak aan rasse-uitsluiting en dit dan te probeer wegsteek nie,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug sal voortaan steeds vir Groenewald ondersteun, ongeag wat haar besluit in terme van volgende stappe mag wees.