Passievolle jong Afrikaners vonk voort by AfriForum Jeugkongres 2026
AfriForum Jeug se jaarlikse kongres het vanjaar van 29 Januarie tot 1 Februarie plaasgevind by The Conclave Country Lodge buite Pretoria. Vanjaar se tema was “Vonk voort!” en deelnemers is toegerus met waardevolle vaardighede om probleme te takel wat jong Afrikaners in die gesig staar.
Hoogtepunte van die kongres was aanbiedings deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Die studente het ook deelgeneem aan verskeie praktiese aktiwiteite waaronder ’n selfverdedigingsopleidingsessie, slaggate reggemaak, parkies skoongemaak en vullis herwin in die Groter-Moot saam met ’n AfriForum-buurtspan.
Verder het die jeug hulself gate uit geniet gedurende die boeresport- en potjiekoskompetisie sowel as die cantus en laataand sokkies. Die kongres is gekenmerk aan energieke deelname, spangees en karaktervormende ervarings.
Volgens Hanno Koster, leier van AfriForum Jeug, is daar nou 40 jongmense wat beter toegerus is om elk ’n bydrae in hul gemeenskap te lewer. “Die toekoms behoort aan mense wat seker is van hul identiteit en vasbeslote is om dit skaamteloos uit te leef. Ons het almal nuwe moed en hoop vir die toekoms na afloop van hierdie kongres,” sê Koster.
Yvonne Gerber, ontwikkelingsbeampte van AfriForum Jeug, voeg by dat die vaardighede wat aangeleer is by hierdie kongres, nou landswyd by al AfriForum Jeug se takke aangewend sal word. “Ongeag of jy ’n student of jongwerkende is, sou jy iets by hierdie kongres kon baat. Jong Afrikaners is toegerus om paraat te wees en betrokke te wees, om te veg en te bou, en om vreesloos Afrikaans te wees!”







