Tukkies
| DeurAfriForum

Oorwinning! EFFSC UP se SR-kandidate geskors ná AfriForum Jeug druk toepas

AfriForum Jeug het vandag ’n reuseoorwinning in die belang van alle studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) beklink en hiermee help verseker dat daar geen plek vir radikale, rassistiese organisasies in leierskapstrukture by dié universiteit sal wees nie. Dié oorwinning volg nadat dit vroeër vanoggend aangekondig is dat al agt verkose studenteraadskandidate van die EFF Student Command (EFFSC) UP gediskwalifiseer is weens hul oortreding van studenteraadsverkiesingsreëls. Dié besluit is geneem deur die universiteit se onafhanklike verkiesingsmoniteringspaneel, oftewel die Independent Monitoring Board (IMB). Die IMB is onder meer daarvoor verantwoordelik om toe te sien dat die studenteraadsverkiesings vry en regverdig gehou word.

AfriForum Jeug het verlede week in ’n brief aan die universiteit se leierskap geëis dat die EFFSC UP as ’n studentevereniging gederegistreer word en dat hul studenteraadskandidate (SR) geskors word. AfriForum Jeug het ook as deel van ’n protesaksie teen die omstandighede rakende die SR-verkiesing by dié universiteit ’n klag teen die voorlopige SR-verkiesingsuitslae ingedien. Dit is ondersteun deur meer as 2 000 mense wat ’n petisie hieroor onderteken het. Dié teenkanting spruit uit die onverskoonbare wyse waarop die EFFSC UP sedert die aanvang van die stemproses in vanjaar se SR-verkiesing op 5 September opgetree het. Die EFFSC UP het hulself skuldig gemaak aan intimidasie, aanhitsing tot geweld, die ontwrigting van studiesessies en die aanvuring van rassespanning.

“Ongeag watter oortreding van die verkiesingsreëls die laaste spyker in die doodskis vir die diskwalifisering van die EFFSC se SR-kandidate was, dit is ’n oorwinning vir alle Tukkies-studente. ’n SR wat liedjies oor moord sing, studies ontwrig of studente intimideer kan nooit as leiers erken word nie,” benadruk René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug eis dat universiteitsbestuur by hierdie besluit moet hou en nie moet knak onder intimidasie en dreigemente van geweld wat reeds sedert die aankondiging van die diskwalifikasie van die EFFSC UP se studenteraadskandidate gemaak is nie. “Die universiteit het ’n verantwoordelikheid om studente te beskerm en diegene wat ontwrigting veroorsaak, te keer. Studente wat onveilig voel, kan AfriForum Jeug in kennis stel van enige intimidasie of geweld,” sluit Van der Vyver af.

Kontak AfriForum Jeug by rene.vandervyver@afriforum.co.za.