#OnsSalSelf: AfriForum Jeug se Brits-tak maak straatname weer mooi
Die AfriForum Jeug-tak in Brits het op 24 Oktober verfkwas en al ingespring om dié dorp se name weer netjies oor te verf. Dít het deel gevorm van AfriForum se groter #OnsSalSelf-inisiatief waartydens gemeenskappe aangemoedig word om self moue op te rol en oplossings vir plaaslike uitdagtings te vind.

Die straatname wat gedurende hierdie aksie oorgeverf is sluit onder meer in: Kwêvoël-, Boskraai-, en Anitastraat. Die ywerige vrywilligers het vroeg reeds begin werskaf en hoewel die son vinnig warm op hulle neergeslaan het, het hulle nie teruggedeins nie. Selfs die jongste lid van die groep – die vyf jaar oue Sibelle Steyn – het haar kant gebring en bewys dat mens nooit te jonk is om ’n verskil te maak nie.
“’n Mens hoef nie altyd vir ’n groot projek of ’n perfekte plan te wag om ’n verskil te maak nie. Soms begin dit eenvoudig deur raak te sien wat aandag nodig het en bereid te wees om self iets daaraan te doen. Ons wil trots wees op Brits, en dit beteken dat ons ook bereid moet wees om ons hande vuil te maak om ons dorp só te hou,” sê Jean-Claud Naude, voorsitter van AfriForum Jeug se Brits-tak.
Dié AfriForum Jeug-tak se optrede is ’n voorbeeld van hoe plaaslike betrokkenheid ’n tasbare verskil kan maak. Wanneer jongmense saamstaan en verantwoordelikheid vir hul omgewing aanvaar, word gemeenskapsbetrokkenheid meer as net ’n goeie voorneme – dit word iets wat inwoners elke dag kan sien.
AfriForum moedig inwoners aan om op hul eie manier by te dra tot die verbetering van hul omgewing. Of dit nou is om ’n openbare ruimte op te knap, ’n probleem aan te meld of saam met ander ’n plaaslike projek aan te pak, elke bydrae kan help om ’n positiewe verskil te maak.


