Die_skip_University_of_pretoria
| DeurAfriForum

Onmin op UP: Stakende werknemers intimideer, weier studente toegang tot hoofkampus

Die eerste dag van klasse op die hoofkampus van die Universiteit van Pretoria (UP) is in chaos gedompel met stakende werknemers wat studente toegang tot die kampus weier. AfriForum Jeug het intussen ’n dringende brief aan die universiteitsbestuur gerig en eis dat daar binne ’n uur opgetree moet word teen alle vorme van intimidasie en optrede wat studente se beweging op kampus belemmer. Die jeugorganisasie hou daarbenewens vol dat UP-bestuur nou studente se veiligheid moet verseker.

’n Loongeskil tussen die vakbond Nehawu en UP het verlede week tot ’n beskermde staking oorgegaan. ’n Groot aantal van die kampus se sekuriteitspersoneel vorm ook deel van die staking wat kampussekuriteit derhalwe kwesbaar laat. Volgens Ronald Peters, AfriForum Jeug-bestuurder, het UP-bestuur genoegsame tyd gehad om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om toe te sien dat die akademiese jaar sonder probleme afskop, dat die staking nie inmeng met klasse nie en dat studente se veiligheid nie deur enige protesaksies benadeel sal word nie.

“UP-bestuur moet nou hul verantwoordelikheid nakom en toesien dat studente wat die kampus wil betree of verlaat, dit vrylik en sonder vrees vir intimidasie kan doen. Studente se veiligheid moet nou prioriteit geniet,” benadruk Peters.

AfriForum Jeug het in sy dringende skrywe aan die universiteit aangebied om privaat veiligheidsdienste beskikbaar te stel om die veiligheid van studente, te midde van die plofbare protesaksie by UP se hoofkampus, te help verseker. Die jeugorganisasie monitor intussen ook die situasie by die universiteit se ander kampusse.