NWU-Skorsing

NWU-student aangekla van haatspraak, AfriForum Jeug eis vir onttrekking van alle aanklagtes

Die dissiplinêre verhoor van Shaun Christie, die senior student van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat vroeër vandeesmaand tydelik geskors is na aanleiding van sy openbare beswaar oor die inhoud van ’n sessie by ’n oriënteringsgeleentheid, vind môre op die universiteit se Potchefstroom-kampus plaas. AfriForum Jeug se regspan sal Christie tydens die verhoor bystaan en ook daarop aandring dat alle aanklagtes teen hom onttrek word.

Luidens die klagstaat word Christie op vyf onderskeie aanklagtes van wangedrag aangekla. Die universiteit voer onder meer aan dat Christie homself met opset skuldig gemaak het aan “haatspraak deur studente aan te hits om teen die LGBTQIAP +-gemeenskap op te staan”. Daarbenewens word hy daarvan aangekla dat hy ’n universiteitsprogram opsetlik ontwrig het; die regte van die spreker van die betrokke sessie, Chloe Valerie van der Walt, geskend het; homself skuldig gemaak het aan vyandige behandeling van die LGBTQIAP +-gemeenskap; en dat hy wederregtelik en met opset ’n valse uitlating rakende die universiteit se beweerde onverdraagsaamheid teenoor Christelike waardes gemaak het.

Volgens Ronald Peters, AfriForum Jeug-bestuurder, misken die universiteit met hierdie aanklagtes Christie se reg tot vryheid van spraak en vryheid van assosiasie. “Die poging om ’n aanklag van wangedrag nou selfs tot die veel ernstiger klag van haatspraak uit te brei, is onaanvaarbaar. Ons regsverteenwoordiger sal Christie bystaan en toesien dat hierdie heksejag stopgesit word,” benadruk Peters. 

“Die universiteit het tot dusver geensins verantwoordelikheid aanvaar vir die blatante partydige wyse waarop die oriënteringsprogram saamgestel is nie. ’n LGBTQIAP +-vereniging was die enigste wat as deel van die amptelike program toegelaat is om ’n sessie aan te bied en dit het die teelaarde vir ontevredenheid geskep. Christie het opgestaan vir dit waarin hy glo en word nou gekasty hiervoor,” sluit Peters af.  

Christie se tydelike skorsing is op 13 Februarie gedeeltelik opgehef. Die universiteit se dissiplinêre komitee het daarmee dié vierdejaarregstudent toestemming gegee om weer sedertdien aan akademiese verrigtinge op dié kampus deelneem. Hy word egter steeds nie toegelaat om enige van die universiteit se openbare geleenthede by te woon nie.