
NWU gee stilswyende goedkeuring aan “Kill the Boer” ná maandelange versuim om dreunsang te veroordeel
Klankgreep: Yvonne Gerber (Afrikaans)
Twee maande nadat AfriForum Jeug ’n beroep op die visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) gedoen het om die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang op kampus te veroordeel, swyg die universiteit se bestuur steeds. Die jeugorganisasie voer aan dat die NWU sy stilswyende goedkeuring aan hierdie oproepe tot geweld gee.
AfriForum Jeug het op 6 Junie prof. Bismark Tyobeka, visekanselier van die NWU, versoek om ’n voorval waarin dié dreunsang op die Potchefstroomkampus gesing is, in die openbaar te veroordeel én die sing daarvan op al die universiteit se kampusse te verbied. Die universiteit het tot op hede nie hierop gereageer nie.
Studente aan die universiteit het intussen hul misnoeë met die sing van die dreunsang te kenne gegee. Meer as 9 000 universiteitstudente het reeds ’n petisie onderteken, wat deur AfriForum Jeug van stapel gestuur is, waarin kapsie gemaak word oor die sing hiervan. Die jeugorganisasie het deur ’n aansoekproses gegaan om die petisie aan die direkteur van studentelewe, dr. Corrie Rheeder, te oorhandig, maar hierdie proses word reeds vir weke lank deur die universiteit vertraag.
Volgens Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug, behoort die NWU nie sy verantwoordelikheid teenoor studente of hul reg op ’n veilige leeromgewing te verontagsaam nie.
“Die universiteit het sy prioriteite duidelik gestel en dit blyk nie of dit op die veiligheid of welstand van sy studente geskoei is nie. Óf die universiteit veroordeel en verbied die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang op kampusse óf die universiteit keur dit goed en laat hierdie oproepe tot geweld voortduur. Die besluit behoort eenvoudig te wees. Daar is geen maandelange ondersoek nodig om tot ’n besluit te kom nie.”
AfriForum Jeug sal voortgaan om druk op die universiteitsbestuur te plaas om ’n veilige en inklusiewe akademiese omgewing vir almal op NWU-kampusse te skep.