|

Nuwe leierkorps toegerus om toekoms in te lei

Die nuwe leierkorps vir die komende skooljaar is aangewys en AfriForum Jeug het 43 nuwe leiers van vyf Pretoriase skole toegerus om hul skoolgemeenskappe beter te lei. Die jeugorganisasie het vandeesweek sy jaarlikse leierskapsgeleentheid, Toekomsskeppers, in Gauteng aangebied. Die geleentheid het gefokus op leierskap, gemeenskapsbou en temperament, asook die belangrikheid daarvan dat jong leiers hulself én die mense rondom hulle beter verstaan.

Leerders van Hoërskool Zwartkop, Afrikaanse Hoër Meisieskool, Hoërskool Centurion, Hoërskool Tuine en Hoërskool Noordheuwel het die geleentheid bygewoon, waar dr. Kirsten du Toit, ’n maatskaplike werker, hulle deur ’n sessie oor temperament en persoonlikheid geneem het. Deur beter te verstaan hoe hulle dink, optree, kommunikeer en op verskillende situasies reageer, kan jong leiers leer hoe om hul sterkpunte beter te benut, hul uitdagings te bestuur en ruimte te skep vir mense wat anders as hulle reageer.

Die leiers het ook die geleentheid gekry om met jong leiers van ander skole kennis te maak, ervarings te deel en nuwe verhoudings te bou. AfriForum Jeug wil ’n groter netwerk van jongmense bou wat mekaar kan ondersteun en saam aan hul skole en gemeenskappe kan bou.

“Hierdie jongmense gaan nou ’n nuwe hoofstuk van leierskap by hul skole aanpak. Ons hoop dat hulle nie net die kennis uit die dag saam met hulle neem nie, maar ook besef dat goeie leierskap begin by hoe jy jouself en ander hanteer. Ons sien uit na die termyn wat vir hierdie leiers voorlê en wens elkeen van hulle sterkte toe. Mag hulle hul invloed gebruik om ’n positiewe verskil in hul skole en gemeenskappe te maak,” sê Tania Scheepers, jeugbeampte vir Gemeenskappe en Veiligheid by AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug glo dat jongmense nie net die leiers van die toekoms is nie, maar dat hulle in die hede ook ’n belangrike rol het om te speel. Deur jong leiers toe te rus met selfkennis, leierskapsvaardighede en ’n beter begrip van ander, word die grondslag gelê vir sterker skole en gemeenskappe.

AfriForum Jeug bly daartoe verbind om platforms te skep waar jong mense toegerus word om met selfvertroue en integriteit leiding te neem.