Nuwe kruise by Witkruismonument opgerig – AfriForum Jeug eis optrede teen plaasmoorde
Vyftien nuwe kruise is die afgelope naweek ter nagedagtenis aan geliefdes – wat die afgelope jaar in plaasmoorde vermoor is – by die Witkruismonument geplant, terwyl ’n verdere twee kruise geplant is om die dood te gedenk van boere wat in onderskeidelik 1978 en 2018 in plaasaanvalle gesterf het. Nagenoeg 3 000 mense wat in plaasaanvalle vermoor is, word by dié monument langs die N1, tussen Mokopane (voorheen Potgietersrus) en Polokwane (voorheen Pietersburg), vereer. Volgens AfriForum Jeug bevestig elke nuwe kruis wat hier geplant word, die dringende behoefte aan die prioritisering van plaasaanvalle as ’n nasionale prioriteitsmisdaad.

AfriForum Jeug het die geleentheid bygewoon om hulde te bring aan die slagoffers van plaasaanvalle en gemeenskappe wat deur dié moorde geraak word.
Hanno Koster, jeugleier van AfriForum Jeug, meen die kruise wat by dié monument opgerig word verteenwoordig veel meer as bloot ’n syfer in misdaadstatistiek. “Agter elkeen is daar ’n mens, ’n familie en ’n gemeenskap wat nooit weer dieselfde sal wees nie. Families het nie tydens Saterdag se byeenkoms statistieke in die grond geplant nie – hulle het kruise geplant ter nagedagtenis aan mense vir wie hulle lief is en wie se plek in hul huise en gemeenskappe vir altyd leeg sal wees. Elke kruis dra ’n naam en ’n verhaal wat nie uit die land se misdaaddebat mag verdwyn nie,” sê Koster.
AfriForum Jeug benadruk dat plaasaanvalle veroordeel moet word. “Hierdie misdaad ontsien niemand nie. Plaaseienaars, hul families, werkers en besoekers kan almal slagoffers van geweld in afgeleë landelike gebiede word,” benadruk hy. Die jeugorganisasie doen daarom ’n beroep op die regering om plaasaanvalle as ’n nasionale prioriteitsmisdaad te klassifiseer en doelgerigte maatreëls in te stel om landelike gemeenskappe beter te beskerm.


“Herdenking alleen is nie genoeg nie. Die regering moet die erns van plaasaanvalle erken en met ’n gekoördineerde veiligheidsplan daarop reageer. Elke nuwe kruis op hierdie koppie beteken daar is nog ’n familie wat iemand aan nog ’n sinnelose plaasmoord moes afstaan,” sê Koster.
AfriForum Jeug doen ook ’n beroep op inwoners van die land om saam te staan teen geweldsmisdaad en nie toe te laat dat die gesprek oor plaasmoorde deur haat en verdeeldheid oorheers word nie.

