Matzikama-tak
| DeurAfriForum

Nuwe jeug-tak in Matzikama begin ’n reis van groei en betrokkenheid

AfriForum Jeug se Matzikama-tak het 4 en 5 Desember tot stand gekom. Die stigting van hierdie tak bewys die jeug se bereidwilligheid om nie net in hul gemeenskap betrokke te raak nie, maar om aktief by te dra tot positiewe verandering.

Gedurende hierdie twee dae het 22 jongmense ook noodhulpopleiding ontvang. Hierdie opleiding het die jeug praktiese vaardighede gegee wat hulle sal bemagtig om doeltreffend in noodgevalle op te tree en om daadwerklik ’n verskil in hul gemeenskappe te maak.

“Die afgelope twee dae het ons duidelik gewys wat die jeug van Vredendal regtig in hulle het. Hulle het aktief deelgeneem aan aktiwiteite wat hulle bemagtig en voorberei om die uitdagings van die toekoms aan te pak. Dit is opmerklik hoe hierdie jeug aksie neem en betrokke is. Ons is trots op hulle en sien uit na wat die toekoms vir hulle inhou,” sê Wikus van der Walt, AfriForum Jeug se beampte vir strukture.

Die jeug is ook ingelig oor die waardes en beginsels van AfriForum Jeug en hoe hulle as jongmense ’n positiewe impak in hul gemeenskappe kan maak. Dit stel hulle in staat om ander mense in ’n krisis te help en is ’n bewys van hoe die jeug hulself wil bemagtig om vir hulself en die gemeenskap verantwoordelikheid te neem.

AfriForum Jeug is vasbeslote om die jeug se belange op die hart te dra en hulle aan te moedig om aktief aan hul toekoms te bou. “Die toekoms is in ons eie hande om die verandering te bring wat ons wil sien. Ons is nie net die leiers van môre nie, maar leiers van vandag,” sluit Van der Walt af.

AfriForum Jeug is opgewonde oor die jeug van die Matzikama-tak se potensiaal en is vol vertroue dat hulle in die nabye toekoms nog meer waardevolle aksies sal onderneem om hul gemeenskappe te bevorder en ’n positiewe impak te maak.