Toekomsskeppers oggend Fotos-25
| DeurAfriForum

Nagenoeg 40 jong leiers woon eerste AfriForum Jeug-leierskapsontwikkelingsessie by

Nagenoeg 40 jong leiers van verskillende Pretoriase hoërskole het Donderdag ’n unieke leierskapsontwikkelingsessie – aangebied deur AfriForum Jeug – bygewoon. Dit was die eerste keer wat hierdie ontwikkelingsessie aangebied is. Dié sessie was daarop gemik om aan jeugleiers noodsaaklike advies te bied en vaardighede te leer wat hulle sal toerus om onder meer positiewe leiers en rolmodelle vir medeleerders te wees.

Volgens Adrienne Krause, AfriForum Jeug se jeugontwikkelingsbeampte, het ’n span kundige sprekers, waaronder dr. Chris Lombard (’n toonaangewende bestuurskonsultant verbonde aan die Noordwes-Universiteit se besigheidskool) en Hui-mari Meyer (’n leierskapsontwikkelingskenner van die WIRED) die leerders toegespreek. “Die sprekers het ’n beroep op die jong leiers gedoen om hul leierskapspotensiaal te ontwikkel. Hulle het nie net insig gebring nie, maar ook ’n nuwe vonk van hoop by hierdie jongmense ontsteek,” verduidelik Krause.

Krause benadruk dat AfriForum Jeug ’n belangrike verantwoordelikheid het om die ontwikkeling van jong leiers te fasiliteer aangesien dié jongmense nou reeds ’n noodsaaklike rol onder die jeug vervul. “Hierdie jong leiers moet nie net vandag al hoopvolle rigtinggewers wees nie, maar gaan ook in die toekoms ’n noodsaaklike funksie vervul. Navorsing het reeds bewys dat jong leiers geleenthede raaksien om positiewe bydraes te maak, dikwels ’n meer positiewe ingesteldheid ten opsigte van uitdagings het en die nodige ambisie het om ’n verskil te maak. Hierdie leiers sal met dié eienskappe ’n selfs belangriker bydrae in die toekoms van ons land kan maak,” meen Krause. 

Lombard het in sy lesing gefokus op die ontwikkeling van ’n positiewe leierskapsbenadering en riglyne gegee oor hoe om ’n rolmodel te wees, terwyl Meyer leerders toegerus het met vaardighede in konflikhantering en inligting oor die belang van ’n leierskapspersoonlikheid.

“Dit is opvallend om die passie en deursettingsvermoë van hierdie jong leiers te aanskou,” sê Krause. “Hulle is boonop toegewyd daaraan om hul onderskeie skoolgemeenskappe op ’n positiewe manier te dien. AfriForum Jeug is entoesiasties oor die impak wat hierdie leiers gaan maak in hul onderskeie skole en die breër Pretoria.”

“Na die afloop van die aanbiedings het die jong leiers die lokaal met nuwe ywer, idees en motivering verlaat. Ons sien uit daarna om te sien hoe hulle die toekoms gaan verander deur ’n verskil in hul onderskeie skole te maak,” sê Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir Onderwys.

AfriForum Jeug beplan intussen om sy jeugleierskapsprogram aanstaande jaar uit te brei om ook jeugleiers in die Wes-Kaap te bereik.