Stellenbosch_University
| DeurAfriForum

Moenie Maties se SR-kandidaat vir wolwe gooi nie, eis AfriForum Jeug

AfriForum Jeug doen ’n beroep op die Universiteit Stellenbosch (US) om Jolene le Roux nie vir die wolwe te gooi nie en dringend in te gryp om ’n einde te bring aan die onreëlmatige optrede van relevante ondergeskikte strukture van die US teen haar.

Dié Pro-Afrikaanse kandidaat se verligting toe sy tot die US se Studenteraad (SR) vir 2024/2025 verkies is, was egter van korte duur. Nadat die US se Verkiesingskommissie (VK) alle klagtes teen Le Roux in vanjaar se SR-verkiesing van die hand gewys het, is die nege voorlopige SR-kandidate – waaronder Le Roux – amptelik op 5 September aangekondig.

Kort ná die aankondiging van die voorlopige SR-kandidate is Le Roux egter ingelig dat ’n aansoek teen haar verkiesing en aspekte van haar veldtog by die US se Studentehof gebring is. Dit is egter nie die eerste keer dat Le Roux se verkiesingsveldtog onder die vergrootglas is nie. Sy is sowat ’n maand gelede daarvan aangekla dat sy finansiering van ’n derde party ontvang het om haar verkiesingsveldtog te bevorder en dat ’n plasing wat op AfriForum Jeug se Instagram-blad gemaak is, die “integriteit van die verkiesingsproses in gevaar gestel het” en aan haar ’n “onregverdige voordeel” gegee het. Dit ten spyte daarvan dat die betrokke plasing geen verwysing na haar as SR-kandidaat gemaak het nie. Die Studentehof het die saak van die hand gewys omdat die VK nie in staat is om voldoende bewyse te verskaf om hul saak te bewys nie.

Luidens ’n prokureursbrief van AfriForum Jeug se regspan van 20 September aan prof. Wim de Villiers, die US-rektor, is Le Roux ’n slagoffer van voortdurende misbruik van interne prosesse wat vir byna ’n maand deur partye aanhangig gemaak is – tot so ’n mate dat die veelvuldige aksies teen haar op teistering en viktimisasie neerkom.

“Die misbruik van die universiteit se interne prosesse is besig om sy tol op haar te eis. Ons kliënt gaan gebuk onder erge bevooroordeling as gevolg van amptelike strukture van die universiteit se deurlopende aksies teen haar en die bestuur van die universiteit wat bloot weier om in te gryp,” sê Wian Spies, AfriForum Jeug se regsverteenwoordiger.

“Terwyl sy eerder op haar studies moet fokus, is sy besig om verskeie ongegronde klagtes teen haar te verdedig. Verder moet sy ook aandag gee aan haar nuwe rol as ’n lid van die SR.”

Indien die US nie by die betrokke strukture se aksies teen Le Roux ingryp nie, sal AfriForum Jeug hom na die Hooggeregshof wend om ’n interdik te bekom om hierdie onwettige optrede, wat in wese op viktimisasie en teistering neerkom, stop te sit.

Die US het tot 27 September om met oplossings en/of voorstelle op AfriForum Jeug se brief te reageer.