V.l.n.r. Lee Rossouw, Jolene Le Roux, Lezanè Ferreira, Jeandre Rhodes en Alison Botha
| DeurAfriForum

Maties-tak vier Vrouedag saam met Alison Botha en Lee Rossouw

AfriForum Jeug se Maties-tak het op 9 Augustus ’n paneelgesprek aangebied in Neelsie Cinema op die Stellenbosch-kampus. Alison Botha en Lee Rossouw het as sprekers opgetree. Die onderwerp het gehandel oor geslagsgebaseerde geweld en hoe vroue die lewe in die oë kyk ná hierdie tipe gebeure.

Lee Rossouw het gesels oor haar ervaring by ’n huis van veiligheid vir vroue wat slagoffers van mishandeling en/of mensehandel is. Op haar beurt het Alison Botha haar wonderwerk-verhaal van oorlewing vertel. Die gehoor het ná die gesprek ’n geleentheid gekry om vrae te vra en hul eie stories te deel.

“Dit was absoluut ongelooflik gewees om so ’n diverse groep jongmense en volwassenes te sien wat diep omgee oor hierdie onderwerp,” sê Jolene le Roux, voorsitter van AfriForum Jeug se Maties-tak.

“AfriForum Jeug wil graag ’n veilige bymekaarkomplek skep vir jongmense en op só wyse hulle ook bemagtig en ontwikkel met behulp van die jeugstrukture wat ons in gemeenskappe uitbou,” sê Petri van der Walt, jeugbeampte vir strukture by AfriForum Jeug.

“Ons as span is dankbaar vir almal wat gehelp het en bereid was om bydraes te lewer om hierdie oggend ’n reusesukses te maak,” sluit Van der Walt af.

Stuur ’n e-pos aan jeug@afriforum.co.za om by jou naaste AfriForum Jeug-tak in te skakel en ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.