Laat daar lig wees om Tuks-kampus, eis AfriForum Jeug
AfriForum Jeug doen ’n dringende beroep op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit om die gebreekte straatligte om die Universiteit van Pretoria (Tuks) se Hatfield-kampus te herstel en nóg straatligte in donker gebiede op te rig. ’n Onlangse ondersoek deur AfriForum Jeug het bevind dat sommige strate om die kampus feitlik geen werkende straatligte het nie, terwyl ander gebiede glad nie eens infrastruktuur vir straatligte bevat nie.
Die gebiede wat die meeste geraak word, sluit in Prospect-, South-, Hilda-, Duxbury-, Richard- en Heroldstraat, asook Lunnonweg, Lynnwoodweg, Universiteit- en Burnettstraat. In sommige gedeeltes is slegs een uit twintig straatligte funksioneel terwyl ander strate in totale donker gehul is.
Hierdie gebrek aan beligting skep ’n gevaarlike omgewing vir studente en die breër Hatfield-gemeenskap. Hatfield word reeds as ’n hoë misdaadgebied geïdentifiseer en die donker strate verhoog die risiko van diefstal, gewelddadige misdade en selfs moontlike ontvoerings.
In ’n brief wat AfriForum Jeug op 5 September aan die Tshwane-metro gestuur het, word geëis
dat die munisipaliteit binne 30 dae alle straatligte wat nie werk nie, herstel; nuwe straatligte installeer waar daar geen strukture daarvoor bestaan nie; en ’n duidelike aksieplan en tydlyn vir hierdie herstelwerk en installasie aan AfriForum Jeug voorlê.
AfriForum Jeug het intussen ook ’n petisie van stapel gestuur om studente, ouers en die gemeenskap te mobiliseer en steun te werf sodat druk op die metro uitgeoefen kan word om onmiddellik op te tree.
“Studente moet saans ná klas veilig by hul koshuise, woonstelle of voertuie kan uitkom sonder om bang te wees vir wat in die donker kan gebeur. Die veiligheid van jongmense behoort ’n prioriteit te wees, nie ’n bysaak nie,” sê Yvonne Gerber, AfriForum Jeug se beampte vir ontwikkeling.
Indien die Tshwane-metro nie betyds gehoor gee aan hierdie versoek nie, sal AfriForum Jeug die saak verder eskaleer deur moontlike regsaksie en om die publiek en die media te betrek.