WhatsApp Image 2025-05-05 at 09.52.17
| DeurAfriForum

Kovsies-studente en Bloem-gemeenskap neem hul veiligheid in eie hande

AfriForum Jeug se Kovsies-tak in Bloemfontein het op 3 Mei Veiligheid 101, ’n AfriForum-program wat op verskeie aspekte van veiligheid fokus, vir studente aan die Universiteit van die Vrystaat en die plaaslike gemeenskap aangebied. Die jeugorganisasie se missie is om veilige bymekaarkomplekke op kampusse en in dorpe te vestig waar jong Afrikaners met selfvertroue kan leer, leef en blywende vriendskappe bou. AfriForum Jeug wil jongmense bemagtig om met selfvertroue hul toekoms in eie hande te neem – om op te staan vir wat reg is, nuwe vaardighede aan te leer en aktief by hul gemeenskappe betrokke te wees.

’n Valke-spesialis het ’n praatjie aangebied oor hoe om oplettend te wees en tekens van mensehandel en kubermisdaad te identifiseer. Daarna het AfriForum Jeug, in samewerking met AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid, ’n praktiese sessie aangebied om studente vaardighede in selfverdediging te leer.

“Veiligheid op kampusse is nie ’n luuksheid nie – dit is ’n basiese reg. Studente is nie veronderstel om in vrees te leef terwyl hulle studeer of hulself as jong volwassenes probeer vestig nie,” sê Kayla de Klerk, beampte vir veiligheid by AfriForum Jeug se Kovsies-tak.

Ná die sukses van Veiligheid 101 in Bloemfontein, word daar beplan om later vanjaar weer ’n sessie aan te bied.

“Die toename in misdaad, insluitend aanvalle, mensehandel en kubermisdaad, maak dit noodsaaklik dat studente nie net bewus is van hierdie gevare nie, maar ook toegerus is met praktiese vaardighede om hulself te beskerm. Daarom het AfriForum Jeug dit op hulself geneem om veiligheid ’n prioriteit te maak en studente met selfverdediging- en veiligheidsvaardighede toe te rus,” sê Wikus van der Walt, AfriForum Jeug se beampte vir strukture.