Kempton-tuin2
| DeurAfriForum

Kempton Park-tak plant groentetuin by kinder- en jeugsorgsentrum in Birchleigh

AfriForum Jeug se Kempton Park-tak het op 27 April in die gemeenskap teruggeploeg deur ’n groentetuin by die Morestêr Kinder- en Jeugsorgsentrum in Birchleigh te vestig. Hierdie aksie het plaasgevind ter viering van Internasionale Moederaardedag wat op 22 April gevier is.

Dit volg nadat ’n tekort aan vars groente by die sentrum aan die lig gekom het. Dié tak het daarom ’n groentetuin aangeplant met behulp van tien taklede en sewe studente. Hierdie studente het die dag by die sentrum deurgebring om die tuin gereed te kry. Van die groente wat geplant is, sluit in spinasie, uie, blomkool, wortels, broccoli, sprietuie, tamaties en bone.

Die betrokke studente het met ’n hele paar wenke weggestap van hoe om ’n suksesvolle groentetuin aan te plant en te onderhou.

“Die kinders is vasberade om elke dag die tuin water te gee en te versorg en ons is opgewonde om te sien hoe die tuin gaan groei! AfriForum Jeug se Kempton Park-tak sal van tyd tot tyd ’n draai gaan maak om die instandhouding en volhoubaarheid van die groentetuin te verseker,” sê Veruska Brits, voorsitter van die Kempton Park-tak. ’n Mens vergeet soms dat so ’n eenvoudige volhoubare oplossing ’n verskil kan maak. Ek is dankbaar om deel te wees van so ’n projek en span mense,” sluit Brits af.

“Hierdie nasionale groentetuin-projek gaan nie net ’n groot volhoubare verskil maak nie, maar dit maak kinders van jongs af bewus om na die omgewing om te sien, self betrokke te raak en so ’n verskil te maak,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum Jeug-tak betrokke en sien hoe die jeug hul toekoms in hul eie hande neem. Besoek afriforum.jeug@afriforum.co.za om aan te sluit.