Jý is verantwoordelik vir jou toekoms. Gaan stem! – AfriForum Jeug
AfriForum Jeug doen ’n beroep op die stemgeregtigde jeug om more (4 November) aan die munisipale verkiesing deel te neem aangesien jongmense ’n belangrike rol in die toekoms van hulle gemeenskappe speel. Die jeugorganisasie meen dat leierskap meer is as om net ’n amptelike posisie te beklee, dit behels ook ’n bereidwilligheid om van vroeg af verantwoordelikheid vir hul onmiddellike gemeenskap te aanvaar.
AfriForum Jeug glo in die beginsels van desentralisering en federalisme, waar gemeenskappe self ’n sê het oor hulle voortbestaan, maar die jeugorganisasie meen dat daar nie gewag kan word vir hierdie omstandighede voordat daar gestem word nie.
“Gemeenskappe moet die vermoë en vryheid hê om self oor hul toekoms te besluit, maar ons wil nie hê dat die jeug hul van demokratiese prosesse moet onttrek in afwagting vir die ideale politieke omstandighede nie. Die geleentheid om op stemdag ons demokratiese reg uit te oefen is een van die maniere waarop ons reeds vandag betrokke kan wees,” sê Hanno Koster, jeugleier van AfriForum Jeug.
Hoewel AfriForum nie aan enige politieke party verbind is nie en nie aan hul lede voorskryf vir watter party om te stem nie beklemtoon die organisasie die belangrikheid daarvan om ingelig deel te neem. Plaaslike regering speel ’n bepalende rol in dienslewering wat gemeenskappe daagliks raak en daarom is dit belangrik dat kiesers ingelig moet wees oor die partye en verteenwoordigers waarvoor hulle stem.
Volgens Koster moet jongmense besef dat burgerlike verantwoordelikheid nie by die stembus eindig nie. Dit behels ook dat hulle tussen verkiesings aktief by hul gemeenskappe betrokke moet raak, oplossings vir plaaslike uitdagings help vind en hul verkose verteenwoordigers verantwoordbaar hou.
“Ons sê gereeld dat die jongmense van vandag die leiers van môre is. Die vraag is egter wat ons vandag doen om vir daardie verantwoordelikheid voor te berei. Leierskap word nie oornag ontwikkel nie. Dit groei deur die besluite wat ons neem, die verantwoordelikheid wat ons aanvaar en die bydrae wat ons tot ons gemeenskappe lewer. Die toekoms begin nie môre nie, dit begin vandag,” sluit Koster af.

