
Jonges neem veiligheid in eie hande met AfriForum-patrollies
Lede van AfriForum Jeug het die afgelope naweek bewys dat jongmense landwyd nie net hul veiligheid ernstig opneem nie, maar ook bereid is om self verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Sewe takke uit verskeie gebiede, insluitend Bloemfontein, Paarl, Hessekwa, Bultfontein, Port Elizabeth en Vanderbijlpark, het aan AfriForum se landwye patrollie deelgeneem.
Hierdie jeugtakke het saam met plaaslike AfriForum-buurtwagte en ander wetstoepassers patrollies gery om ’n veilige teenwoordigheid in hul gemeenskappe te vestig. Hierdie deelname onderstreep AfriForum Jeug se verbintenis tot selfstandige optrede en gemeenskapsveiligheid.
“Die land se jeug weier om toe te kyk hoe die veiligheid van gemeenskappe agteruitgaan. Jongmense het nie net die reg tot ’n veilige leef- en leeromgewing nie, hulle het ook die plig om op te staan en dit te beskerm. AfriForum Jeug is bereid om verantwoordelikheid te neem waar ander faal,” sê Wikus van der Walt, jeugbeampte vir Strukture by AfriForum Jeug.
Volgens Van der Walt is dit duidelik dat jongmense nie verwag dat ander hulle beskerm nie, maar dat hulle bereid is om self diensbaar te wees. AfriForum Jeug sal voortgaan om studente en jong volwassenes aan te moedig om proaktief op te tree en aktief betrokke te raak sodat hulle aan gemeenskappe kan help bou wat vry, veilig en voorspoedig is.
Klik hier om vandag nog betrokke te raak.