|

Inwoners van Amelia Dameskoshuis raak veiligheidswenke baas

AfriForum Jeug se Kovsies-tak het op 2 September ’n Veiligheid 101-werksessie vir die inwoners van Amelia Dameskoshuis in Bloemfontein aangebied. Hierdie sessie het uit twee komponente bestaan waaronder teorie, wat gefokus het op omgewingsbewustheid en hoe studente potensiële gevaar kan identifiseer en vermy, en prakties, wat selfverdedigingstegnieke in verskeie scenario’s, soos hoe om op te tree indien iemand jou met ’n vuurwapen of mes dreig en hoe om hulp te soek sonder om jou lewe onnodig in gevaar te stel, ingesluit het.

“Ek en die dames van Amelia Dameskoshuis het die sessie baie waardeer en geniet. Ons sien uit na ’n opvolg-sessie. Dis altyd goed om nog scenario’s en praktiese tegnieke in te oefen.” sê Kayla de Klerk, veiligheidsbeampte vir AfriForum Jeug se Kovsies-tak.

“Die realiteit is dat misdaad die afgelope jare in universiteit-omgewings toegeneem het. Dit is daarom noodsaaklik dat studente weet hoe om hul omgewing te analiseer en watter stappe om te neem wanneer hulle hulself in ’n gevaarlike situasie bevind. AfriForum Jeug se mandaat is om studente se veiligheid, beide op en buite kampus, te bevorder,” sê Wikus van der Walt, AfriForum Jeug se beampte vir strukture.

AfriForum Jeug het ’n sterk fokus op studenteveiligheid en is besig om verskeie strukture en projekte te ontwikkel wat ’n bydrae gaan lewer om studente se veiligheid te verbeter.