Hoeveel boere nog, pres. Cyril Ramaphosa?
Deur Anne-C’Monn Joubert
Net soos ’n gebreekte bord nie weer heel gemaak kan word nie, kan politieke leiers nie jare later met verduidelikings oor wat hulle “eintlik bedoel het” die gevolge van gevaarlike en verdelende retoriek eenvoudig ongedaan maak nie. Julius Malema, EFF-leier, het onlangs gesê dat die dreunsang “Kill the Boer, Kill the Farmer” nooit letterlik bedoel was as ’n oproep om boere dood te maak nie en dat die moord op boere moet stop.
Waarom is dit nodig om jou stellings later te moet verduidelik as jy nie bedoel het wat jy gesê het nie, Malema? Jy kan nie jare lank ’n slagspreuk gebruik en dan bloot sê mense het dit verkeerd verstaan nie.
Intussen vra AfriForum Jeug in ’n brief aan president Cyril Ramaphosa hoeveel boere nog aangeval, vermink of vermoor moet word voordat die regering genoeg gehad het?
Dié vraag volg nadat vier beskuldigdes Dinsdag 3 November in die Ventersdorp-landdroshof verskyn het in verband met die wrede aanval op die Noordwes-boer, Donovan Marx, wat op 28 Oktober op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp aangeval en ernstig beseer is. AfriForum Jeug versoek Ramaphosa om voor die beskuldigdes se volgende hofverskyning op 13 November ’n duidelike openbare standpunt oor plaasaanvalle in te neem.
AfriForum Jeug meen die president kan ook nie meer voorgee dat plaasaanvalle ’n probleem is wat hom of die mense wat hy verteenwoordig nie raak nie. AfriForum se jongste navorsing beklemtoon juis die kwesbaarheid van boere, hul gesinne, plaaswerkers en ander mense wat op plase woon en werk. In 2025 alleenlik het AfriForum 184 plaasaanvalle en 29 plaasmoorde aangeteken, terwyl 36% van dié aanvalle so gewelddadig was dat die slagoffers ’n beduidende kans op dood gehad het.
In sy brief eis AfriForum Jeug dat die president die aanval op Marx en die voortdurende geweld in landelike gemeenskappe ondubbelsinnig veroordeel, ’n duidelike standpunt oor gevaarlike politieke retoriek inneem en uiteensit watter konkrete stappe sy regering gaan doen om boere, plaaswerkers en ander mense in landelike gemeenskappe beter te beskerm.
Ons kan nie aanhou wag vir nog ’n aanval, nog ’n begrafnis of nog ’n gesin wat verwoes word voordat daadwerklike optrede volg nie. Suid-Afrika het minder verduidelikings ná die tyd en meer verantwoordelike leierskap vóór die volgende aanval nodig.
AfriForum Jeug glo egter ook dat gemeenskappe nie bloot kan wag dat die regering al hul probleme oplos nie. Jongmense het ’n verantwoordelikheid om self betrokke te raak, gemeenskapsnetwerke te bou en verantwoordelikheid vir hul omgewing en veiligheid te neem.
Ons kan aanhou vra hoeveel boere nog, maar ons moet ook vra wat elkeen van ons bereid is om te doen om ons gemeenskappe sterker en veiliger te maak. Verandering begin wanneer gewone mense besluit om nie meer bloot toeskouers te wees nie.
Sluit aan by AfriForum Jeug as jy ook ’n verskil in jou gemeenskap wil maak en self eienaarskap van jou eie veiligheid wil neem.
* Anne-C’Monn Joubert is ’n jeugbeampte vir AfriForum Jeug.

