|

Basta met Jhb-burgemeester se 8 uit 10 vir prestasie, sê AfriForum Jeug

Dada Morero se onlangse selfbeoordeling van 8 uit 10 vir sy prestasie as burgemeester van Johannesburg strook nie met die werklikheid wat inwoners en ondernemings in dié stad daagliks ervaar nie, sê AfriForum Jeug. Morero het homself onlangs in die media hoog aangeslaan vir sy bestuur van Johannesburg, ten spyte daarvan dat die stad steeds met ernstige uitdagings rakende dienslewering worstel. Dit sluit onder meer die voortslepende waterkrisis in verskeie dele van die stad in, asook wydverspreide probleme met buitensporige elektrisiteitsrekeninge wat inwoners finansieel onder druk plaas.

Volgens mediaberigte staar ondernemings in gebiede soos Selby groot uitdagings in die gesig as gevolg van watertekorte. Ondernemings word gedwing om bykomende kostes aan te gaan om hul deure oop te hou, terwyl honderde werksgeleenthede moontlik in gedrang is.

Terselfdertyd rapporteer talle inwoners dat hulle met buitensporige elektrisiteitsrekeninge gekonfronteer word as gevolg van probleme met die stad se rekeningstelsel. In sommige gevalle ontvang huishoudings rekeninge van tienduisende rande sonder enige beduidende verandering in hul verbruik. Inwoners word dan dikwels gedwing om langdurige dispute met die stad aan te pak om die foutiewe bedrae reg te stel.

“Johannesburg se inwoners leef daagliks met die gevolge van swak dienslewering. Dit is daarom moeilik om te verstaan hoe die burgemeester tot die gevolgtrekking kom dat sy prestasie ’n 8 uit 10 verdien terwyl soveel inwoners steeds met basiese diensleweringsprobleme worstel,” sê Hanno Koster,  AfriForum Jeug se jeugleier.

AfriForum Jeug is van mening dat die toestand van Johannesburg se infrastruktuur en dienslewering rede tot ernstige kommer is en dat die stadsbestuur eerder daarop moet fokus om bestaande probleme op te los as om hul eie prestasie te verdedig.

Die organisasie doen dus ’n beroep op inwoners om hul stem te laat hoor en druk op die burgemeester en die stadsbestuur uit te oefen om aanspreeklikheid te aanvaar vir die toestand van die stad en die voortdurende verswakking van munisipale dienste.

“Die inwoners van Johannesburg verdien ’n stadsbestuur wat resultate lewer en probleme oplos. So lank as wat waterkrisisse, administratiewe mislukkings en ander dienslewering probleme voortduur, sal inwoners tereg vra of  ’n punt van 8 uit 10 werklik geregverdig is,” sluit Koster af.

  • Kyk hier na AfriForum Jeug se video in reaksie op Morero se gradering.