AfriForum Jeug verwelkom Young Republicans of Texas se resolusie oor Afrikanergemeenskap
AfriForum Jeug verwelkom die Young Republicans of Texas se resolusie oor die Afrikanergemeenskap in Suid-Afrika wat by hul pas afgelope jaarlikse konvensie aanvaar is. Die resolusie erken dat Afrikaners die teiken van verskeie vorme van diskriminasie deur die ANC-geleide regering is en doen ’n beroep op Republikeine in Texas om sterk standpunt daarteen in te neem en om vriendskaplike samewerking met Afrikaners na te streef.
Die volledige resolusie bestaan uit vyf breë waarnemings oor die posisie van Afrikaners in Suid-Afrika en die onlangse besluite van die Amerikaanse regering wat Afrikaners raak, en gaan dan voort om ’n beroep te doen op eensgesindes in Amerika om ’n waardevolle verhouding met die Afrikanergemeenskap in Suid-Afrika te bou en handhaaf.
Volgens Louis Boshoff, woordvoerder van AfriForum Jeug, is dit verblydend om te sien dat daar jong Amerikaners is wat ’n akkurate indruk het van die uitdagings wat Afrikaners ervaar en bereid is om standpunt daaroor in te neem. “Ten spyte van ontkenning deur die Suid-Afrikaanse regering en verskeie verdraaide beelde in die media, beskik die Young Republicans of Texas oor ’n nugter en gebalanseerde beeld van die diskriminasie wat Afrikaners in die gesig staar. AfriForum Jeug sal ook streef na ’n vriendskaplike verhouding met die Young Republicans of Texas.”
Boshoff voeg by dat daar reeds persoonlike vriendskappe tussen sommige lede van AfriForum Jeug en lede van die Young Republicans of Texas bestaan.
Die Young Republicans of Texas het boonop ’n groot invloed op die wetgewer in Texas en op die Republikeinse party.


