|

AfriForum Jeug versterk Puk-studente met veiligheidsvaardighede

AfriForum Jeug se Puk-tak het verlede week ’n Veiligheid 101-werksessie vir 15 studente op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus aangebied. Die hoofdoel van hierdie opleiding was om studente met veiligheidsvaardighede toe te rus sodat hulle nie slagoffers van misdaad in die areas om die universiteit word nie.

Een van AfriForum Jeug se hooffokusareas is die veiligheid van studente, daarom het dié jeugorganisasie hom daartoe verbind om studente toe te rus met die nodige kennis en praktiese vaardighede om te weet hoe om op te tree wanneer hulle in ongewenste of gevaarlike situasies beland.

Die jongste werksessie, wat deur beide mans- en vrouestudente bygewoon is, het opleiding met ’n teoretiese element bevat, asook ’n praktiese gedeelte. Die teorie het gehandel oor omgewingsbewustheid, hoe om moontlike bedreigings te identifiseer en hoe om te reageer wanneer ’n persoon of situasie verdag voorkom. ’n Vraag-en-antwoordsessie het op die teorie gevolg, waartydens verskillende scenario’s bespreek en studente geleer is hoe om daarop te reageer.

In die praktiese gedeelte is studente onder meer gewys hoe om uit die kloue van ontvoerders te ontsnap en hoe om ’n vuurwapen of mes by ’n aanvaller af te vat. Dit is egter beklemtoon dat hierdie tegnieke nie in alle situasies gebruik kan word nie, daarom is dit belangrik om so ver moontlik hulp te ontbied. Dié tegnieke kan wel broodnodig wees wanneer ’n lewe in gevaar is.

Volgens Jemma Heidmann, ’n student aan die Puk wat die sessie bygewoon het, is dit vir haar uiters belangrik om selfverdedigingsvaardighede aan te leer. “Ek verkies dit om ’n plan te hê en dit dalk nooit te gebruik nie, eerder as om geen plan te hê nie en later te wens ek kon iets aan die situasie gedoen het,” sê sy.

Wikus van der Walt, jeugbeampte vir Strukture by AfriForum, wat die sessie gelei het, sê met dié dat universiteitskampusse toenemend onveilig raak, is dit belangrik dat studente met nuwe vaardighede en kennis rakende hulle veiligheid toegerus word. “In tye soos dié is dit noodsaaklik dat jy verantwoordelikheid vir jou eie veiligheid neem en voorbereid is. Veiligheid is ’n gedeelde verantwoordelikheid, maar dit begin eers by jouself.”

AfriForum Jeug se Puk-tak beplan reeds ’n opvolgsessie en hoop om nog meer studente daar te verwelkom sodat hulle die geleentheid kan kry om in hul eie veiligheid te belê.